Foto’s: Witdolfyn in Seine gered

Die witdolfyn word uit die Seine-rivier gehys. (Foto: JEAN-FRANCOIS MONIER / AFP)

Die witdolfyn wat vir meer as ʼn week lank in Frankryk se Seine-rivier gestrand was, is vroeg Woensdag ná ʼn gespook uit die water verwyder.

Veeartse waarsku egter dat die witdolfyn kommerwekkend maer is en moontlik kan vrek.

Talle duikers en reddingswerkers het byna ses uur lank gespook om die 800 kilogram soogdier met ʼn net en ʼn hyskraan uit die rivier te lig. Die witdolfyn is ná verskeie pogings omstreeks 04:00 eindelik uit die rivier gelig en in ʼn bak onder die onmiddellike versorging van veeartse geplaas.

Die witdolfyn, ʼn beskermde spesie wat gewoonlik in die koue Arktiese water aangetref word, is vandaar deur verskeie veeartse ondersoek voordat dit in ʼn koelvragmotor na die kusdorpie Ouistreham vervoer is.

Die witdolfyn word uit die Seine-rivier gehys. (Foto: JEAN-FRANCOIS MONIER / AFP)

Die soogdier sal hiér vir die volgende paar dae waargeneem word voordat hy in die oop see vrygelaat sal word.

Dié operasie is egter nie sonder risiko’s nie, waarsku Isabelle Brasseur van die Marineland-seedierepark in die suide van Frankryk wat gehelp het met die witdolfyn se redding.

“Dit kan wees dat hy nou, tydens die hantering en die reis óf by sy aankoms in die kusdorp vrek”, het sy aan AFP gesê.

Maroela Media het vroeër berig die vier meter lange witdolfyn is verlede Dinsdag vir die eerste keer in die Seine-rivier, wat deur Parys na die Engelse Kanaal vloei, sowat 130 kilometer binnelands van die kanaal by Saint-Pierre-la-Garenne in Normandië opgemerk.

Veeartse sien Woensdagoggend na die witdolfyn om. (Foto: Benjamin LEGENDRE / AFP)

Die soogdier se weg na die binneland is Vrydag deur ʼn sluis by Saint-Pierre-la-Garenne, 70 km van Parys versper. Sy gesondheid het intussen verswak nadat hy geweier het om te eet.

Die bewaringsgroep Sea Shepherd sê egter “vandag is ’n wonderlike dag vir hierdie witdolfyn en vir almal wat by sy redding betrokke was”.

Talle mense het vanoggend langs die oewer van die rivier saamgedrom om die reddingsoperasie dop te hou.

Veeartse sien Woensdagoggend na die witdolfyn om. (Foto: Benjamin LEGENDRE / AFP)

“Ek is hoopvol dat hy die see sal bereik en dat hy nie soos die orkawalvis sal opeindig nie,” het Isabelle Rainsart gesê met verwysing na die orkawalvis wat in Mei ook in die Seine opgemerk maar later dood is.

Rainsart het die witdolfyn verlede Dinsdag vir die eerste keer vanuit haar tuin, wat oor die rivier uitkyk, afgeneem.

Omstanders hou die reddingspoging dop. (Foto: Benjamin LEGENDRE / AFP)

Talle mense van regoor Frankryk én die buiteland is sedertdien besorg oor die witdolfyn se lot met skenkings wat die afgelope week ingestroom het.

Witdolfyne migreer suid in die herfs wanneer ys in hul inheemse Arktiese waters begin vorm. Die soogdiere waag dit egter selde só ver suid.

Die naaste witdolfyn-bevolking is tans langs die Svalbard-argipel gesetel, noord van Noorweë – sowat 3 000 kilometer van die Seine af.

Die betrokke witdolfyn in Normandië is maar die tweede van sy soort om nog ooit in Frankryk opgemerk te word. Die eerste is in 1948 in ‘n vissermansnet uit die Loire-riviermond getrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

En soe deel ons almal hierdie aarbol terwyl Rusland, Nord Korea, Iran en China die aarbol wil uitwis met kern bomme. Wonder of hulle besef as die eerste kern bom lug op is is hulle ook dood soe gou sal die VSA kern bomme lug in. Dat klein saai mannetjies sukke speletjies kan speel met die enigste aarde wat ons het. Kern bomme sal self die oceane verwoes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.