Frankryk op hoë gereedheid weens terreur

Frankryk is op hoë gereedheid geplaas na ‘n terreuraanval by ‘n skool. (Foto: Denis Charlet / AFP)

Spanning loop hoog in Frankryk nadat ʼn onderwyser Vrydag doodgesteek is in wat blyk ʼn terroriste-aanval te wees. Nog ʼn aanval naby Parys is glo gefnuik en twee museums moes ontruim word weens terreurwaarskuwings.

Die Franse weermag is gevolglik ontplooi en die Louvre in Parys, die grootste kunsmuseum ter wêreld, sowel as die Paleis van Versailles, is Saterdag ontruim.

Rugbyliefhebbers van reg oor die wêreld, insluitend talle Suid-Afrikaners, is tans in Frankryk om die Wêreldbeker-rugbytoernooi te volg.

Die aanval het Vrydag in die noordoostelike dorp Arras plaasgevind, tuiste van ʼn groot groep Moslems en Jode. ʼn Man in sy 20’s het die skool binnegegaan, die onderwyser Dominique Bernard doodgesteek en nog drie mense, insluitend nog ʼn onderwyser en ʼn veiligheidswag, ernstig gewond. Die verdagte was voorheen ʼn leerder aan die skool. Tydens die aanval het hy geskree “Allahu akbar” (God is groot).

Die verdagte is intussen in hegtenis geneem en hy, saam met verskeie lede van sy gesin, is tans in aanhouding.

Die Franse regering het dit ʼn “Islamitiese terreurdaad” genoem. Owerhede vermoed die voorval hou verband met die spanning in die Midde-Ooste.

Saterdag het vrese toegeneem dat die oorlog tussen Israel en Hamas na geweld in buurlande kan oorspoel. Frankryk het 7 000 weermaglede opgeroep en die Louvre in Parys laat ontruim en gesluit.

Die Louvre in Parys moes ontruim word. (Foto: Alain Jocard / AFP)

ʼn Woordvoerder van die Louvre het aan AFP gesê die museum het ʼn geskrewe nota ontvang dat die Louvre en sy besoekers in gevaar is.

Emmanuel Macron, die Franse president, het die skool waar die aanval plaasgevind het, vandag (Saterdag) besoek.

“Hierdie skool is getref deur die barbaarsheid van Islamitiese terrorisme,” het hy gesê en bygevoeg dat die onderwyser die aanvaller probeer keer het en só waarskynlik talle ander lewens gered het. Hy het gesê nóg ʼn aanval naby Parys is deur sekuriteitsmagte afgeweer, met verwysing na die inhegtenisneming van ʼn “geradikaliseerde man”, nadat hy ʼn gebedsaal in die Yvelines-gebied naby Parys verlaat het. Die man het ʼn verbode wapen by hom gehad.

Die nasionale anti-terrorisme vervolgingsgesag het intussen aangekondig die voorvalle word ondersoek.

Die Franse minister van binnelandse sake het Donderdag optogte in solidariteit met Palestyne verbied, aangesien die regering meen dit sal die openbare orde versteur. Duisende mense het nietemin dieselfde dag tog in Parys en ander Franse stede bymekaargekom en teen-Israelse en pro-Palestynse krete gesing. Die polisie het die betogers met traangas uitmekaar gejaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.