Genetiese ontleding bevestig Wagner-leier se dood

Een van die tydelike gedenkmure vir die Wagner-leier Yevgeny Prigozhin wat in talle Russiese stede opgerig is. (Foto: Natalia Kolesnikova/AFP)

Die hoof van die Wagner-huursoldategroep, Yevgeny Prigozhin, is Sondag ná ʼn genetiese ontleding amptelik dood verklaar terwyl woede en vrae oor presies wat aanleiding gegee het tot die vliegongeluk wat die afgelope week sy lewe geëis het, toeneem.

Daar was die afgelope paar dae heelwat bespiegeling dat die Kremlin betrokke was by die ongeluk presies twee maande nadat die Wagner-groep ʼn opstand teen Moskou se militêre leiers gelei het.

“Molekulêr-genetiese ontledings is afgehandel as deel van die ondersoek na die vliegongeluk in die Tver-streek,” het Svetlana Petrenko, ʼn woordvoerder vir Rusland se Ondersoekkomitee, gesê.

“Deur die uitslae is die identiteit van al 10 slagoffers bepaal. Dit strook met die lys op die vlugmanifes.”

Onder die ander nege mense wat aan boord van die private Embraer-straler was toe dit neergestort het, was Dmitry Utkin, ʼn skaduagtige karakter wat Wagner se operasies bestuur en glo in Russiese militêre intelligensie gewerk het.

Hulde gebring

‘n Argieffoto van die Russiese sakemagnaat en stigter van die Wagner-groep, Yevgeny Prigozhin. (Foto: Sergei Ilnitsky/AFP)

Russiese owerhede het ʼn ondersoek na oortredings van lugvaartregulasies ná die voorval van stapel gestuur, maar het geen verdere besonderhede oor die moontlike oorsaak bekend gemaak nie.

Dmitry Peskov, woordvoerder van die Kremlin, het die voorval as “tragies” beskryf en het gerugte van moontlike vuilspel as ʼn “infame leuen” afgemaak.

Sy opmerking kom terwyl die Kremlin oënskynlik probeer om groepe soos Wagner in die bek te ruk met ʼn presidensiële uitvaardiging Vrydag dat alle paramilitêre vegters lojaliteit aan die Russiese vlag moet verklaar.

In ʼn toespraak Donderdag het pres. Wladimir Poetin gesê hy ken Prigozhin, ʼn eens lojale bondgenoot, sedert die vroeë 1990’s. Hy het hom beskryf as ʼn man wat foute gemaak het, maar ook “resultate behaal” het.

Poetin se opmerking het weinig gedoen om die toenemende vrae en woede oor die huursoldaathoof se dood te laat bedaar en talle tydelike plekke van herinnering is in verskeie Russiese stede opgerig.

Talle van diegene wat hulde gebring het, glo Prigozhin is doodgemaak.

“Hy is doodgemaak deur sy vyande. Hulle sal nie sê wie dit was nie. Die ondersoek sal dit wys, maar ons hoop dat wraak diegene inhaal wat verantwoordelik is vir hierdie misdaad,” het ʼn Russiese man by een van die gedenkplekke gesê.

Nog ʼn man sê Prigozhin het “talle vyande” gehad, terwyl hy bespiegel het oor wie moontlik vir die Wagner-hoof se dood verantwoordelik was.

“Prigozhin het baie vyande in ons land, Oekraïne en in Afrika gehad,” het hy gesê.

Wagner-vegters, wat Moskou gebruik het in sommige van Rusland se bloedigste gevegte in die inval van Oekraïne, het ook ʼn aansienlike militêre teenwoordigheid in Afrika gehandhaaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.