Geregtigheid gesoek 100 jaar ná vrou se galgdood

Freddy Bywaters (links), Edith Thompson en haar man, Percy.

Meer as ʼn honderd jaar nadat Edith Thompson (29) die doodstraf vir die moord op haar man, Percy, opgelê en gevolglik gehang is, word daar nou opnuut pogings aangewend om haar postuum van die misdaad kwyt te skeld.

Percy Thompson is op 3 Oktober 1922 in Ilford, in die ooste van Londen, deur Frederick Bywaters – Edith se minnaar – doodgesteek. Bywaters het volgehou dat Edith niks met die moord te doen gehad het nie, maar sy is op grond van ʼn reeks liefdesbriewe tussen haar en Bywaters nietemin verhoor en eindelik skuldig bevind.

Die saak het destyds groot opslae gemaak en mense het reeds douvoordag by die deure van die Old Bailey-hof tougestaan om die verhoor te volg. Ná haar skuldigbevinding is Edith op 9 Januarie 1923 by die Holloway-tronk gehang. Sy moes na die galg gedra word nadat sy dae lank sterk verdowingsmiddels toegedien is.

Die graf waar Edith Thompson jare later herbegrawe is.

Nou, meer as ʼn honderd later, probeer prof. René Weis, wat deur Edith se familie as haar erfgenaam en eksekuteur aangewys is, steeds aansoek doen vir kwytskelding vir Edith – ingevolge die Koninklike Prerogatief vir Genade – vir ʼn misdaad wat hulle volhou sy nie gepleeg het nie.

“As ons in ʼn regverdige regstelsel glo, moet ons ook glo dat foute van die verlede, of regsdwalings so ooglopend en kru soos hierdie een, reggestel kan word,” sê Weis.

Sy span Londense prokureurs het die aansoek om kwytskelding in Julie verlede jaar namens Weis aanhangig gemaak. Hierin voer hulle aan Edith se verhoor en die appèl teen die uitspraak was “uiters onbillik” en dat Edith te staan gekom het voor ʼn regter – sir Montague Shearman – wat toegelaat het dat haar briewe as “bewys van opset en motief” in die hof gebruik is.

Dít, selfs al was daar geen werklike verband tussen die briewe en die moord op Percy Thompson nie.

Dié foto van Edith Thompson is in naastenby 1920 geneem.

Die briewe was die enigste sogenaamde bewyse teen Edith en die 26 briewe wat sy vir Bywaters geskryf het, was eindelik deurslaggewend in die saak. Regter Shearman het in sy opsomming aan die jurie gesê die “afwesigheid van bewyse” in die saak maak die oorweging van die briewe uiters belangrik.

Die regter het uitgevaar teen Edith se ontrouheid aan haar man – en die jurie het dit ter harte geneem.

Ontledings van die briewe wat onlangs gedoen is, kon egter geen aanduiding vind dat Edith enigsins van voorneme was om Percy te vermoor nie. Inteendeel, het die sielkundige dr. Donna Youngs in ʼn moderne ontleding daarvan bevind, die briewe was amper “kinderlik”.

Nadat die publiek Edith aanvanklik verguis het, het hulle ná haar skuldigbevinding ʼn U-draai gemaak en meer as ʼn miljoen mense het ʼn petisie onderteken dat daar aan haar genade betoon moet word. Dit, en Bywaters se herhaaldelike versekering dat sy niks met die moord te doen gehad het nie, kon Edith egter steeds nie red nie.

Bywaters het selfs tydens sy teregstelling moedig by Edith se onskuld gehou, maar niks kon die owerhede oortuig om genade aan haar te betoon nie.

Departement heroorweeg aansoek

Freddy Bywaters.

Die Britse departement van justisie het op 19 Oktober verlede jaar ʼn kort antwoord in reaksie op Weis se jongste aansoek gestuur. Dit lui dat die minister van justisie nie ʼn aanbeveling vir kwytskelding kon maak nie omdat geen nuwe getuienis in die saak gelewer is nie. Dit is een van die vereistes vir ʼn Koninklike Prerogatief vir Genade.

Weis is meegedeel dat hy ook nie teen hierdie besluit kan appelleer nie, hoewel hy hom steeds tot die Kommissie vir die Hersiening van Strafsake kan wend, ʼn instelling met die mag om sekere sake vir appèl te verwys.

Weis se regspan het daarna geantwoord dat hulle “uiters besorg” is oor die redes waarom die aansoek van die hand gewys is. Hulle voer aan dit dui op ʼn wanbegrip van wetgewing wat oor kwytskeldings handel.

Hulle het ook aangevoer dat Weis nie die wetlike reg het om die kommissie te nader nie en dat net die departement van justisie daardie mag het.

Weis se regspan het in Desember ʼn kennisgewing op die departement beteken van hul voorneme om voort te gaan met ʼn regterlike hersiening van die besluit om nie die kwytskelding toe te staan nie. ʼn Dag later het hulle ʼn brief ontvang wat lui dat die departement die kwytskelding sal heroorweeg.

Weis sê dit is “diep skokkend” dat ʼn saak van sulke “morele belang, die gewelddadige dood van ʼn jong vrou” net ʼn standaardantwoord van die departement ontlok het.

Bronne: BBC; capitalpunishmentuk.org; edithjessiethompson.co.uk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.