Gesteelde Picasso byna dekade later gevind

Die Griekse polisie fynkam in Januarie 2012 die Nasionale Galery in Athene vir leidrade ná twee skilderye gesteel is. (Foto: LOUISA GOULIAMAKI / AFP)

Die polisie in Griekeland het ’n skildery van Pablo Picasso wat in 2012 by die Nasionale Galery in Athene gesteel is, teruggevind en ’n verdagte in hegtenis geneem.

Die skildery, Hoof van ‘n vrou, wat Picasso in 1949 aan die Nasionale Galery geskenk het, is volgens die Athene-nuusagentskap (ANA) Maandag in die landelike gebied Keratea, ongeveer 45 kilometer suidoos van Athene, teruggevind.

Nog ’n gesteelde skildery – Piet Mondrian se Stammer Windmill – is ook in die proses teruggevind.

Daar word vermoed dat twee mans in 2012 by die Nasionale Galery ingebreek en dié olieverfskilderye uit hul rame gesteel het.

ArtNews het vroeër vanjaar berig ’n ondersoek deur die Griekse polisie het daarop gedui dat die gesteelde Picasso moontlik nog in Griekeland is en vir $20 miljoen (sowat R286 miljoen) in die Griekse onwettige kunsmark te koop aangebied is. Daar was glo nooit ʼn koper daarvoor nie omdat die kunswerk so opvallend is.

Die Griekse polisie fynkam in Januarie 2012 die Nasionale Galery in Athene vir leidrade ná twee skilderye gesteel is. (Foto: LOUISA GOULIAMAKI / AFP)

Die publikasie beskryf destyds se inbraak by die Nasionale Galery in Athene as ’n “byna perfekte” inbraak wat in sewe minute uitgevoer is.

Die diewe het glo die alarm deur die loop van die betrokke aand verskeie kere geaktiveer wat veiligheidswagte genoop het om die alarm af te skakel. Die diewe het toe omstreeks 04:30 deur ’n oop balkonvenster toegang tot die galery gekry en blitsvinnig die skilderye uit hul rame gesteel.

Die diewe het egter ʼn ander alarm, wat nie afgeskakel was nie, geaktiveer, maar kon steeds daarin slaag om met die twee skilderye sowel as ’n 16de-eeuse tekening op die vlug te slaan voordat die veiligheidswagte opgedaag het.

Veiligheid by die Nasionale Galery is ná die inbraak opgeskerp.

Bykomende bron: ArtNews

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.