Geweld, chaos in krisisgeteisterde Haïti

Haïti word al twee weke lank deur bendegeweld geteister (foto: Clarens SIFFROY/ AFP)

Meer as 30 Amerikaanse burgers het Sondag in Florida geland op ʼn huurvlug van Haïti af, ná weke lange bendegeweld dié Karibiese nasie lamgelê het.

Die vlug het van Haïti se hawestad Cap-Haitien vertrek, waar die lughawe volgens die Amerikaanse ambassade steeds oop was.

“Die departement van buitelandse sake het die veilige vertrek van Cap-Haitien, Haïti, van meer as 30 Amerikaanse burgers op ʼn huurvlug van die Amerikaanse regering gefasiliteer,” het die woordvoerder van die departement van buitelandse sake Sondag gesê.

ʼn Bende-rebellie wat daarop gemik was om die eerste minister Ariel Henry te ontsetel, het die afgelope twee weke verwoesting in Haïti veroorsaak. Henry het verlede week ingestem om te bedank ná toenemende druk en geweld in die verarmde Karibiese land.

Die goed gewapende groepe se getalle het aansienlik gegroei nadat ʼn aanval op twee tronke beteken het dat duisende gevangenes vrygelaat is.

ʼn Onlangse verslag van die VSA het ook gewaarsku oor die amperse ineenstorting van basiese dienste in Haïti.

ʼn Betoger verbrand bande tydens ʼn betoging na die bedanking van Ariel Henry (foto: Clarens SIFFROY / AFP)

Die chaos het miljoene mense kwesbaar gelaat terwyl hulle wag op die vorming van ʼn oorgangsregering ná Henry se aankondiging.

Vir Amerikaners wat steeds in Haïti is, ondersoek die departement van buitelandse sake opsies vir hul vertrek vanuit die hoofstad Port-au-Prince. “Amerikaanse burgers sal daaroor ingelig word sodra ons dit veilig kan doen,” het die woordvoerder Sondag gesê.

“Ons sal voortgaan om Amerikaanse burgers by te staan solank kommersiële opsies onbeskikbaar bly en die sekuriteitsomgewing ons toelaat om dit te doen.”

Die VSA het ook ʼn beroep op sy burgers in Haïti, wat die land wil verlaat, gedoen om via hul webwerf met die regering in verbinding te tree.

Die VSA het Sondag gesê hy het nie-noodsaaklike Amerikaanse personeel van die ambassade in die hoofstad na veiligheid geneem en bykomende personeel ontplooi om veiligheid by die kompleks te versterk.

Verskeie ander lande, ook die Europese Unie, het hul diplomatieke personeel weens die krisis reeds na veiligheid geneem.

Die VN het ook gesê hy onttrek nie-noodsaaklike personeel.

Kenia het aangebied om ʼn internasionale veiligheidsending te lei om Haïti se oorweldigde polisie te ondersteun aangesien ʼn noodtoestand in die land op 3 April eindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Toergids ·

In 2004 het die SA Vloot se SAS Drakensberg Haiti besoek, ons het ook R 10 Miljoen geskenk vir die land. Wonder of ons weer sal gaan

Leeubekkie ·

Soveel lugbesoedeling met al die bande wat gebrand word en nog vure ook, wêreldwyd. Maar net ‘n observasie…..

Tinus ·

Hulle het gesoek wat hulle nou gekry het. Almal hardloop rond met gewere en ontvoer hul eie mense vir lospryse. Amerika word terroriste genoem, maar hulle soek voedselhulp by Amerika. Boikot Haiti, dalk sal hulle dan leer.

George ·

@Toergids, lyk maar soos hier, lande skenk biljoene, en kyk hoe lyk dit hier.

Cassie Carstens ·

Die eerste minister het nou bedank soos wat hulle wou he. Wat is die probleem dan nou? Slegs misdadigheid.

skurweberg ·

Ryk Amerikaanse vakansie-gangers wat vlug vir hulle lewe. Ek hoop die rykes in Suid-Afrika het burgerskap en plekke gereel om heen te vlug as dit nodig gaan word. Dit kan ook vir julle en ons te laat word. Titanic II se gebeure speel hom gelydelik voor ‘n mens af. Terwyl die skip besig was om te sink wou mense plekke op die reddingsbote koop. Dit sal nie help nie.Tree poaktief op vir die wat kan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.