Ghislaine Maxwell tot 20 jaar gevonnis

Ghislaine Maxwell (links) en Jeffrey Epstein (regs). (Foto’s: Laura Cavanaugh/Handout/ verskeie bronne/AFP)

Die Britse sosiale vlinder Ghislaine Maxwell (60) is Dinsdag tot 20 jaar tronkstraf gevonnis nadat sy vroeër aan aanklagte van mensehandel skuldig bevind is en dat sy jong meisies vir Jeffrey Epstein voorberei het om seksueel misbruik te word.

AFP berig dat Maxwell geen reaksie getoon het toe regter Alison Nathan van New York die vonnis in ’n stampvol federale hof in Manhattan in die VSA voorgelees het nie.

Maroela Media het vroeër berig dat die aanklagte teen Maxwell uit voorvalle spruit wat tussen 1994 en 2004 plaasgevind het.

Twee van Epstein se beweerde slagoffers sê hulle was so jonk as 14 toe Maxwell hulle na bewering begin voorberei het en gereël het dat hulle aan Epstein masserings gee wat tot seksuele aktiwiteite gelei het.

Maxwell se vonnis is minder as dit waarvoor aanklaers gehoop het, maar beteken steeds dat sy waarskynlik die grootste deel van die res van haar lewe agter tralies sal deurbring. Aanklaers het vir ʼn vonnis tussen 30 en 55 jaar gevra.

Ghislaine Maxwell is al byna twee jaar in aanhouding. (Foto: Scott Heins / Getty Images via AFP)

Nathan het Maxwell se misdade as “afskuwelik en roofsugtig” beskryf en haar bewerings verwerp dat sy deur aanklaers vervolg is bloot omdat Epstein ʼn verhoor vrygespring nadat hy in die tronk sy eie lewe geneem het.

“Dis belangrik om te benadruk dat hoewel Epstein sentraal staan tot sy misdadige komplot, mej. Maxwell nie in sy plek gestraf word nie.”

Daar is egter vroeër bevind dat Maxwell wel ʼn sleutelrol in hierdie komplot gespeel het.

Maxwell het Dinsdag in ʼn verklaring simpatie teenoor Epstein se slagoffers betuig en gesê sy is “jammer vir die pyn wat hulle verduur het”. Sy het egter die skuld op Esptein gepak.

“Ek glo Jeffrey Epstein was ʼn manipulerende, slu en beherende man wat ’n gekompartementaliseerde lewe gelei en almal in sy omtrek geflous het.”

Damian William, staatsaanklaer vir die suidelike distrik van New York, sê die vonnis van 20 jaar hou Maxwell verantwoordelik vir gruwelike misdade teen kinders.

Annie Farmer, die enigste slagoffer wat nie onder ʼn skuilnaam getuig het nie, het die vonnis verwelkom.

“Dis nooit te laat vir die waarheid om uit kom nie en nooit te laat om iemand verantwoordbaar te hou nie,” het sy gesê.

Maxwell is al bykans twee jaar in aanhouding nadat sy in 2020 in New Hapshire in hegtenis geneem is. Sy sal waarskynlik in haar laat 70’s of vroeër vrygelaat word op grond van goeie gedrag.

Klaer Sarah Ransome het voor die vonnisoplegging aan verslaggewers buite die hof gesê dat Maxwell in die tronk “moet sterf”.

Maxwell se regsverteenwoordiger, Bobbi Sternheim, het gesê Maxwell sal teen die vonnis appelleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

henndrik ·

Ek kan nie verstaan hoekom kan mense nie verantwoordelikheid vat vir hulle eie optrede nie – sy kan onderskei tussen reg en verkeerd, hoe kan dit nou Epstein se skuld wees vir wat sy gedoen het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.