‘GoodFellas’-akteur dood op 83

Paul Sorvino en sy dogter, Mira. (Foto: Neilson Barnard/AFP)

Die Amerikaanse akteur Paul Sorvino, wat bekend is vir sy rol in die mafia-fliek GoodFellas, is Maandag in die ouderdom van 83 aan natuurlike oorsake dood.

Sorvino se familie het dié nuus in ʼn verklaring bevestig.

Sy weduwee, Dee Dee Sorvino, het in ʼn boodskap op haar Facebook-blad geskryf dat sy deur haar man se dood verpletter is.

“Die liefde van my lewe en die wonderlikste man wat nog geleef het, is weg. Ek is bitter hartseer.”

Sorvino is op 13 April 1939 in Brooklyn, New York, gebore. Sy pa was ʼn Italiaanse immigrant wat in ʼn kleedfabriek gewerk het en sy ma was ʼn tuisteskepper en klavieronderwyseres.

Hy was van jongs af met die menslike stem gefassineer en het as tiener in hotelle gesing met die droom om ʼn operasanger te word. Weens uitdagings met asma kon dié droom egter nooit tot op ʼn professionele vlak vorder nie, aldus die Hollywood Reporter.

Die akteur het dikwels deur sy loopbaan, wat oor meer as ʼn halfeeu gestrek het, die grootskerm met name soos Robert de Niro gedeel en het deur die jare bekendheid verwerf vir sy kragtige en koudhartige mafia-rolle soos Paulie Cicero in Martin Scorsese se GoodFellas.

Sorvino het ook in 1973 ʼn Tony-nominasie en ʼn Drama Desk-toekenning vir sy rol as die gewetenlose Phil Romano in die oorspronklike Broadway-produksie van Jason Miller se That Championship Season ontvang.

Sirvino en die akteur, Robert de Niro by ‘n vertoning van ‘GoodFellas’. (Foto: Mike Coppola/AFP)

Hy het ook onder meer die rol van Henry Kissinger in Oliver Stone se film Nixon (1995) vertolk, asook Claire Danes se oorbeskermende pa in Baz Luhrmann se Romeo and Juliet in 1996.

Aanhangers van Law and Order sal hom ook onthou as sers. Phil Cerreta.

Die akteur het destyds in ʼn onderhoud in die Orlando Weekly gesê dat sy belangstellings uiters veelsydig én teenstrydig is met dié van die karakters wat hy dikwels speel. “Baie mense dink ek is óf ʼn ‘gangster’ óf ʼn polisieman of iets, maar ek is eintlik ʼn beeldhouer, ʼn skilder, ʼn skrywer, ʼn digter en ʼn operasanger.”

Die akteur se dogter, Mira Sorvino, is ook ʼn bekroonde aktrise wat bekend is vir haar rol as Romy White in Romy and Michele’s High School Reunion.

Die 54-jarige het in 1995 die Oscar vir beste ondersteunende aktrise vir haar rol in Woody Allen se Mighty Aphrodite gewen.

“My pa, die groot Paul Sorvino, is oorlede. My hart is uitmekaargeskeur – ʼn lewe van liefde en vreugde en wysheid is saam met hom nou weg,” het sy oor haar pa se afsterwe op Twitter geskryf.

Bronne: AFP/The Hollywood Reporter

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sterling ·

Toe ek die prentjie sien, dog ek Oom Johann Rupert het ons gegroet :o

Dankie tog dit was nie die geval nie…

Blikkies ·

Baie gehou van sy rolle in die ‘Gangster’ rolprente. Sy voorkoms het mooi ingepas by die Mafia. Mag sy vriende en familie berusting vind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.