Handgemaakte wapen gebruik in Abe-sluipmoord

Tetsuya Yamagami, die man wat vermoedelik Shinzo Abe geskiet het, word deur polisie geduik by die Yamato Saidaiji-stasie in Nara (8 Julie 2022) (Foto: Yomiuri Shimbun/AFP)

Die man wat van die sluipmoord op Japan se voormalige eerste minister Shinzo Abe beskuldig word, is deur die polisie uitgeken as Tetsuya Yamagami.

Die polisie sê die werklose 41-jarige man het skuld beken op aanklag dat hy Abe Vrydag tydens ʼn verkiesingsveldtog met ʼn handgemaakte vuurwapen geskiet het.

Yamagami het aan die polisie gesê hy het drie jaar lank van 2002 in Japan se vloot, die Maritieme Verdedigingsmag, gedien. Hy het onlangs vir ʼn jaar en ʼn half by ʼn aanleg in die weste van Japan gewerk, maar het in Mei vanjaar bedank.

“Sy houding by die werk was nooit ʼn probleem nie. Ek is verbaas en geskok,” het sy voormalige bestuurder by die aanleg aan die plaaslike Mainichi Shimbun-koerant gesê.

Beamptes het gesê Yamagami het “saaklik” met hulle gesels ná die aanval.

Voormalige skoolmaats het aan die openbare uitsaaier NHK gesê die verdagte was stil, maar nie ʼn alleenloper nie. Hy het uitgeblink in sport en akademie.

Op ʼn vraag oor sy motief vir die skietery het Yamagami aan die polisie gesê hy het ʼn wrok teen ʼn spesifieke organisasie en dat hy geglo het die voormalige eerste minister het ʼn verbintenis met dié organisasie.

Die naam van die organisasie is nie bekendgemaak nie, maar plaaslike media sê dit is ʼn godsdienstige groep, aldus anonieme bronne.

NHK en die Mainichi Shimbun berig Yamagami se familie het probleme ondervind omdat sy ma geld aan die organisasie geskenk het.

Yamagami wou oorspronklik die hoof van die groep teiken, maar het toe sy fokus na Abe verskuif, omdat hy geglo het Abe het die organisasie in Japan bevorder, berig Kyodo News, ook aldus anonieme bronne.

Hy het gesê hy het ʼn handgemaakte vuurwapen in die aanval gebruik en foto’s van die toneel wys ʼn rowwe, vierkantige wapen met twee lope, bedek met swart kleefband. Die polisie het sy huis deursoek en op “verskeie handgemaakte vuurwapen-agtige voorwerpe” beslag gelê.

Hy het vermoedelik minstens een van die vuurwapens ʼn paar maande gelede gemaak, het Jiji-nuusagentskap berig. Volgens Jiji het Yamagami ook aan skietoefeninge in die vloot deelgeneem.

Volgens beamptes het Yamagami aanlyn van Abe se besoek aan Nara te hore gekom. Hy het ʼn trein na die stasie geneem waar die voormalige eerste minister ʼn toespraak gelewer het.

Die moord het skokgolwe deur die land en wêreldwyd gestuur, gegewe Japan se lae vlakke van gewelddadige misdade en streng vuurwapenbeheer.

ʼn Lykswa met Abe se liggaam het Saterdag in Tokio aangekom. ʼn Nagwaak sal Maandag gehou word en ʼn begrafnis word vir Dinsdag beplan met Abe se nabye familielede en vennote.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.