Handgeskrewe Bowie-lirieke verkoop teen reusebedrag

David Bowie. (Foto: Stephen Chernin/AP)

Die oorspronklike handgeskrewe lirieke van David Bowie se klassieke popliedjie “Starman” is Dinsdag op ʼn veiling in Brittanje teen ʼn reusebedrag van £203 500 (sowat R4 miljoen) verkoop.

“Starman”, wat in 1972 as ʼn enkelsnit uitgereik is, vorm deel van die Ziggy Stardust-konsepalbum wat van Bowie ʼn internasionale ster gemaak het.

Die handgeskrewe lirieke is vir vyf keer meer as die geskatte bedrag van £40 000 (sowat R776 000) verkoop.

Olivier Varenne, direkteur van verkrygings en alliansies en versamelings by die Museum of Old and New Art in Tasmanië, Australië, het die handgeskrewe lirieke namens ʼn private versamelaar aangekoop.

“Ons het byna ongekende belangstelling van regoor die wêreld vir hierdie geskiedkundige stukkie memorabilia gekry,” het Paul Fairweather van Omega Auctions gesê.

Die omslag van David Bowie se konsepalbum, “Ziggy Stardust”.

“Ons is baie tevrede met die ongelooflike bedrag wat ons behaal het en is seker die lirieke sal deur die nuwe eienaar gekoester word.”

Die lirieke is voorheen uitgestal as deel van die V&A-museum se David Bowie-versameling. Dit was sedert die 1980’s in die besit van ʼn enkele eienaar.

Die A4-bladsy bevat onder meer handgeskrewe wysigings deur Bowie, insluitend spelfoute wat gekorrigeer is. Die bladsy is Dinsdag as deel van ʼn David Bowie- en “glam rock”- veiling verkoop.

Die eerste demo van Bowie wat “Starman” sing is in 2019 vir £51 000 (sowat R1 miljoen) verkoop nadat dit vir byna vyf dekades in ʼn solder stof opgegaar het.

Daarin kan gehoor word hoe Bowie vir sy kitaarspeler, Mick Ronson, wat in 1993 dood is, sê dat hy nie gereed is om die liedjie te sing nie toe hy probeer het om die demo te stop.

Bowie, gebore David Jones, is in 2016 in New York in die ouderdom van 69 dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.