Mark Shand, die hertogin van Cornwall se broer, is oorlede ná ʼn fratsongeluk buite ʼn nagklub in New York.
ʼn Woordvoerder vir Clarence House het Woensdag die ongeluk bevestig. “Mnr. Shand het in die hospitaal gesterf weens ʼn kopbesering wat hy opgedoen het toe hy geval het,” lui die verklaring. Shand was 62 jaar oud. “Die prins van Wallis, die hertogin en haar familielede is geskok deur die tragiese en skielike verlies.”
Shand, ʼn reisende skrywer, het omstreeks 02:30 gegly en geval terwyl hy ʼn sigaret wou aansteek, het Mail Online berig. Hy het sy kop teen die sypaadjie gestamp. Die voorval het buite die Rose Bar by die Gramercy Park Hotel in New York plaasgevind waar Shand ʼn fondsinsamelingsgeleentheid vir The Elephant Family bygewoon het. Dié organisasie spits hom toe om die uitwissing van die bedreigde Asiër-olifante te verhoed. Shand was nou betrokke by die organisasie wat hy in 2002 op die been gebring het.
Intussen het Mail Online berig hy het glo hoëbloeddrukmedikasie gebruik wat moontlik duiseligheid kon veroorsaak het. Hy was saam met sy vriendin, die 36-jarige Ruth Powys.
Shand word oorleef deur sy eksvrou, Clio, en dogter Ayesha (19).
Virgin-baas Richard Branson het aangebied om die liggaam met sy privaatvliegtuig na Engeland terug te neem.