‘Higiëne-nagmerrie’ ná aardbewing in Turkye

Informele tente wat deur oorlewendes in Antakya opgerig is. (Foto: Yasin Akgul . AFP)

Die gebrek aan basiese benodigdhede soos toilette wek kommer dat allerhande siektes nou in die nadraai van Turkye se dodelikste aardbewing kan versprei.

Die land word reeds deur ʼn tekort aan medisyne in die gesig gestaar. Die aardbewing het meer as 40 000 lewens in die suidooste van Turkye en die noordweste van Sirië geëis en miljoene mense ontwrig. Oorlewendes moet nou ook yskoue temperature trotseer en word aan haglike toestande onderwerp.

Min geboue het bly staan met die gevolg dat toilette en storte ook weggevee is.

“Daar is geen toilette nie,” sê Husne Duz, ʼn 53-jarige vrou van Kahramanmaras, ʼn stad naby die episentrum van die aanvanklike aardbewing.

“Mense urineer naby die tente. Ons het toilette nodig. Ons moet kan stort. Ons het wasmasjiene nodig om ons klere te was.”

ʼn 18-jarige inwoner van Antakya het aan AFP gesê die tekort aan sanitasie raak nou baie erg.

“Ons is dalk nie in die aardbewing dood nie, maar ons sal beslis weens siektes doodgaan,” het die vrou, wat net haar naam as Sedef deurgegee het, gesê.

Mobiele toilette wat in geraakte gebiede opgerig is, bring weinig verligting.

“Dis ons grootste probleem,” het Nurhan Turunc (42) gesê waar hy medisyne by ’n tydelike apteek gekry het. “Die toilette is regtig in ʼn haglike toestand. Daar is geen water nie.”

Mobiele toilette op ʼn brug in sentraal-Antakya was vandeesweek oorvol, met ontlasting en urine wat in die strate ingeloop het.

Die 18-jarige Sedef sê sy het geen ander keuse gehad as om dié vuil mobiele toilette te gebruik nie, aangesien dié by ʼn skool waar sy skuiling gevind het, in ʼn erger toestand is.

Op een van die mobiele toilette het iemand geskryf “gebruik asseblief menslik” om beter toilet-etiket aan te moedig.

Sedat Akozcan, wat die streek se kamer van aptekers bestuur, sê waar “higiëne sleg is, sal daar beslis aansteeklike siektes wees”.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Althes ·

My hart gaan uit vir daardie mense. Binne oomblikke is die Turke se wêreld op sy kop gedraai. En ons mensdom hou ons met nietighede op en stry en kibbel oor nonsens, terwyl ander in ñ erger stryd gewikkel is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.