Hollywood: Babanuus vir dié twee sterre; Olivia Munn deel kankerdiagnose

Kitty Spencer en Vanessa Hudgens het babanuus gedeel. (Foto’s: Instagram)

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Babanuus vir dié twee sterre

Die High School Musical-aktrise Vanessa Hudgens en prinses Diana se broerskind, lady Kitty Spencer, betree dié jaar elkeen ʼn nuwe fase in hul lewens.

Vanessa (35) het mense verras met ʼn bababoep tydens vanjaar se Oscar-toekenningsgeleentheid. Sy het die nuus oor haar swangerskap tot dusver stilgehou, en het in sterre soos Rihanna en Beyoncé se spore gevolg deur ʼn onverwagse openbare aankondiging te maak.

Sy is in Desember 2023 met die bofbalspeler Cole Tucker getroud.

Dit was nie net Vanessa wat haar swangerskap geheim gehou het nie; lady Kitty het haar swangerskap geheel en al geheim gehou. Dié koninklike broerskind het vroeër vandeesweek bekendgemaak dat sy nie net swanger was nie, maar ook reeds ma geword het.

“Dit is die geluk van my lewe om jou mamma te wees. Ek het jou onvoorwaardelik lief,” het Kitty se Moedersdagboodskap op Instagram gelui. Dié pienkvoet is ʼn verlangse nefie van die prins en prinses van Wallis se kinders, George, Charlotte en Louis, so ook van prins Harry en Meghan Markle se twee spruite, Archie en Lilibet.

Sy is in Julie 2021 met die Suid-Afrikaanse entrepreneur Michael Lewis in Rome, Italië, getroud.

Olivia Munn, Christie Brinkley deel kankerdiagnose

Die 43-jarige aktrise Olivia Munn het vroeër vandeesweek bekendgemaak dat borskanker verlede jaar by haar gediagnoseer is en dat sy in die afgelope tien maande vier prosedures, insluitend ʼn dubbele mastektomie, ondergaan het.

“Ek is gelukkig. Ons het dit vroeg genoeg gevang, ek het opsies gehad,” het die Newsroom-aktrise openhartig op Instagram gedeel. Sy het in Februarie 2023 haar gene laat toets om proaktief enige kankergene te bespeur. Olivia het in dieselfde tydperk ook ʼn mammogram laat doen, wat geen ongerymdhede getoon het nie. Haar dokter het egter aangedring dat sy kort daarna weer vir ʼn mammogram gaan, en so is ʼn aggressiewe soort borskanker by haar gediagnoseer.

Sy moedig vroue aan om gereeld vir borsondersoeke en ʼn mammogram te gaan.

“Vra jou dokter om borskanker-risiko-assessering uit te werk. As die risiko hoër as 20% is, moet jy jaarliks vir ʼn mammogram gaan sodra jy 30 word.”

Die 70-jarige supermodel Christie Brinkley het op haar beurt vroeër vandeesweek bekendgemaak dat velkanker by haar gediagnoseer is.

“Die goeie nuus vir my was dat dit vinnig gevang is,” het sy op Instagram gedeel.

“En die goeie nuus vir jou is dat jy dit kan vermy deur elke dag getrou sonblok aan te smeer.”

Daarmee saam het sy mense aangemoedig om gereeld vir velondersoeke te gaan, en om nie skaam te wees vir sonblok, beskermende drag of hoede nie.

“Van nou af dra ek baie sonblok, lang moue en ʼn groot hoed!”

Kelly Clarkson op pad Olimpiese Spele toe

Die 41-jarige “Since U Been Gone”-sangeres Kelly Clarkson gaan Juliemaand in Parys wees – en nie vir vakansie nie.

Kelly gaan saam met die NFL-ster Peyton Manning en die NBC-sportaanbieder Mike Tirico die openingseremonie van die 2024 Olimpiese spele behartig.

Dié nuus is vroeër vandeesweek op die laataandgeselsprogram The Tonight Show Starring Jimmy Fallon bekendgemaak.

Kelly Clarkson. (Foto: Ethan Miller/Getty Images /AFP)

“Ek is verheug dat ons uiteindelik die nuus kan deel. Ons hou al so lank die geheim, en ek haat geheime,” het ʼn opgewekte Kelly gesê.

Die openingseremonie vind op 26 Julie vanjaar in Parys plaas, en gaan heelwat anders as dié van vorige jare lyk. Dié jaar spog hulle nie net met sportaanbieders nie, maar ook Hollywood-bekendes wat deel van die verrigtinge sal wees. Daarmee saam gaan die seremonie nie oudergewoonte in ʼn stadion plaasvind nie, maar langs die Seine rivier. Die atlete sal rivierlangs op bote vir die toeskouers waai.

‘Desperate Housewives’-ster ontvang gesogte prys

Eva Longoria, wat veral bekend is vir haar jarelange rol in die dramareeks Desperate Housewives sal eersdaags ʼn prys ter waarde van $50 miljoen (sowat R935 miljoen) vir haar welsynswerk ontvang.

Dié prys word jaarliks deur die multi-miljoenêr Jeff Bezos uitgedeel en beloon individue wat die samelewing in ʼn besonderse wyse dien.

Eva Longoria. (Foto: Eva Longoria/Instagram)

Die Eva Longoria-stigting het in 2012 geopen en werk sedertdien om Latyns-Amerikaanse vroue in die VSA te ondersteun en bemagtig met entrepreneursvaardighede.

Eva is nie die enigste een wat dié jaar vereer word nie. Bill McRaven, ʼn weermagveteraan wat ʼn program op die been gebring het om ander veterane te ondersteun, ontvang ook dié jaar $50 miljoen.

Ander individue wat al met dié prys vereer is sluit Van Jones, Jose Andres en Dolly Parton in.

Bykomende bronne: The Hollywood Reporter, Country Living, BBC, Fox News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.