Hollywood: Bafta-benoemings bekend; gewilde Disney-reeks eersdaags weer op kassie

Selena Gomez en David Henrie is vervaardigers van die opvolgreeks. (Foto: David Henrie/Instagram)

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van hierdie week se jongste internasionale vermaaknuus.

Gewilde Disney-reeks eersdaags weer op kassie

Een van Disney-kanaal se gewildste jeugreekse, Wizards of Waverly Place, sal binnekort terugkeer na die televisie.

Die oorspronklike sterre van Wizards of Waverly Place, Selena Gomez (Alex Russo) en David Henrie (Justin Russo), sit dié keer in die vervaardigerstoele van die reeks. Hulle sal ook in die reeks te sien wees, hoewel Selena na verwagting net in die eerste episode sal verskyn.

Die skrywers van dié opvolg, Jed Elinoff en Scott Thomas, was ook verantwoordelik vir Raven’s Home, ʼn opvolgreeks op die oorspronklike That’s So Raven.

Janice LeAnn Brown, Alkaio Thiele en Mimi Gianopulos sal ook in die Wizards of Waverly Place-opvolgreeks wees. Dié keer wentel die storie rondom Janice se karakter, Billie, wie Justin dan onder sy vlerk neem. Kykers gaan ook Justin se vrou en kind vir die eerste keer ontmoet.

Dit is nog nie bekend wanneer die reeks op die kassie gaan begin draai nie.

Bafta-benoemings bekend

Oppenheimer is ʼn voorloper by nóg ʼn toekenningsgeleentheid.

Die Britse Akademie van Rolprent- en Televisiekunste (Bafta) het pas hul benoemings vir dié jaar se toekennings bekendgemaak. Oppenheimer, Poor Things, Killers of the Flower Moon en The Zone of Interest het veral benoemings ontvang.

Cillian Murphy in ‘Oppenheimer’. (Foto: IMDb)

Saltburn, Wonka en All of Us Strangers is van die rolprente wat onder die beste Britse rolprent-kategorie benoem is. Fantasia Barrino is benoem vir haar rol in The Color Purple, en ding mee teen Anatomy of a Fall se Sandra Hüller, Maestro se Carey Mulligan, Rye Lane se Vivian Oparah, Barbie se Margot Robbie en Poor Things se Emma Stone.

Bradley Cooper is vir sy rol in Maestro benoem, en ding mee teen Colman Domingo (Rustin), Paul Giamatti (The Holdovers), Barry Keoghan (Saltburn), Cillian Murphy (Oppenheimer) en Teo Yoo (Past Lives).

Anders akteurs wat benoem is, sluit onder meer Emily Blunt, Danielle Brooks, Claire Foy, Rosamund Pike, Robert De Niro, Robert Downey Jr., Jacob Elordi, Ryan Gosling, Paul Mescal en Dominic Sessa in.

Arnie bots met die gereg

Die voormalige spiertier en politikus, Arnold Schwarzenegger, is vroeër vandeesweek tydelik in aanhouding geplaas by die München-lughawe nadat hy nie ʼn waardevolle horlosie verklaar het nie.

Arnold was op pad na Oostenryk, waar hy die horlosie by ʼn welsynsveiling sou verkoop. Dié horlosie, wat groot moeilik vir die ster besorg het, sou na verwagting vir $50 000 (sowat R950 000) verkoop word, het ʼn verteenwoordiger van Arnold se nie-winsgerigte organisasie, Schwarzenegger Climate Initiative, gesê.

Arnold Schwarzenegger. (Foto: Tolga Akmen/AFP)

Dit is juis dié organisasie wat aan’t stuur van die welsynsveiling staan.

Arnold was egter net vir drie ure aangehou, met die Duitse owerhede wat aangevoer het dat sou enige waardevolle items in Europa agterbly, daar belasting daarop betaal moet word.

Die Terminator-ster moes uiteindelik ʼn boete van duisende euros betaal om die aanhouding te beëindig.

Snoop Dogg se dogter deel nuus oor beroerte

Die bekende kletsrymer, Snoop Dogg, se 24-jarige dogter, Cori Broadus, het vroeër vandeesweek ʼn beroerte gehad.

“Ek is net 24,” het Cori dié week op ʼn Instagram-storie geskryf. “Wat het ek gedoen om dit te verdien?”

Tientalle mense het Cori, wat al openhartig oor haar stryd met Lupus gesels het, beterskap toegewens.

Snoop Dogg se dogter het ‘n beroerte gehad. (Foto: Steph Chambers/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Cori, wat al in die ouderdom van ses met dié outo-immuunsiekte gediagnoseer is, het in September 2023 aan People bekendgemaak dat sy toe reeds vyf maande lank nie meer enige medisyne vir haar toestand drink nie.

“Dit gaan goed, beter as wat dit ooit het,” het sy destyds gesê. “Ek gebruik tans net alles wat natuurlik is. Alle soorte tee, kruie en see-mos. Ek dink my lyf het besef dat dit nuwe program is.”

Snoop Dogg het ook drie seuns: Cordell (26), Julian (26) en Corde (29).

Bykomende bronne: BBC News, Sky News, Deadline, E! News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.