Hollywood: ‘Freaky Friday’-opvolg op pad; New Kids on the Block terug ná 11 jaar

Jamie Lee Curtis en Lindsay Lohan tydens die première van ‘Freaky Friday’ in 2003. (Foto: Carlo Allegri/Getty Images/AFP)

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Freaky Friday-opvolg op pad

Byna 21 jaar nadat Lindsay Lohan en Jamie Lee Curtis in die gewilde tienerfliek, Freaky Friday, gespeel het, keer dié twee aktrises terug om die storielyn weer op te tel.

Die 37-jarige Lohan, wat ook nou al ma van ʼn babaseuntjie is, het vroeër vandeesweek aan People-tydskrif bevestig dat ʼn opvolgrolprent op pad is. Hoewel sy “opgewonde” is om weer saam met Jamie te werk, kon sy nog nie verklap wanneer die fliek geskiet gaan word nie. Dit is ook nog nie bekend of die teks vir die opvolg al gereed is nie.

“Ons gesels nog byna elke dag,” het Lindsay gebieg. “Ek dink ons gaan baie pret hiermee hê.”

Colin Firth se Pride & Prejudice-hemp opgeveil

Pride & Prejudice-aanhangers het omtrent tou gestaan om die ikoniese wit hemp waarmee Colin Firth as Mr Darcy uit die water gestap het, te koop.

Dié hemp, wat Colin in die 1995-reeksweergawe van die Jane Austen-verhaal gedra het, is vroeër vandeesweek vir ʼn allemintige £25 000 (sowat R600 000) op ʼn veiling in Londen verkoop.

Daar is vooraf geskat dat die hemp ongeveer £7 000 tot £10 000 sou oplewer. Die toneel het dalk byna drie dekades gelede op die kassie verskyn, maar dit word vandag steeds as een van die gewildste TV-oomblikke geag.

Dié hemp was deel van ʼn versameling van sowat 60 kostuums wat in flieks en reekse deur die jare gedra is. Uitrustings gedra deur onder andere Madonna, Johnny Depp, Drew Barrymore en Margot Robbie is ook tydens die veiling te koop aangebied.

Die items wat opgeveil is, sluit onder meer in Madonna se Christian Dior-uitrusting wat sy in Evita gedra het, Drew Barrymore se aandrok uit Ever After: A Cinderella Story en Heath Ledger se baluitrusting uit die 2005-fliek, Casanova.

New Kids on the Block terug ná 11 jaar

Die gewilde mansgroep, New Kids on the Block, gaan ná 11 jaar van stilte weer ʼn album die lig laat sien.

Dié 14-snit-album, Still Kids, is vroeër vandeesweek deur die groep bevestig en sal op 17 Mei vanjaar die rakke tref. Dit sal Jonathan Knight, Jordan Knight, Joey McIntyre, Donnie Wahlberg en Danny Wood se agtste vollengte-album wees en ʼn opvolg op hul 2013-album, 10.

“Dis die mees volwasse album wat ons al gemaak het,” het Danny, wat ook as die projek se kreatiewe direkteur gedien het, gesê.

“Tog is dit die prettigste en gemaklikste album wat ons nog ooit gemaak het. Hierdie album, meer as ander, gaan die New Kids-aanhangers ʼn volsirkel-oomblik laat beleef. Dit gaan oor hoop en geleenthede en onsself wees.”

Nog nie klaar met The Big Bang Theory nie

Young Sheldon, die reeks wat vanuit die gewilde komediereeks, The Big Bang Theory, geskep is, kom eersdaags tot ʼn einde. Dit sal egter nie ʼn laaste afskeid vir van dié reeks se sterre wees nie.

Emily Osment en Montana Jordan sal eersdaags weer die leisels van hul karakters, Mandy en Georgie, optel vir ʼn reeks wat op hul gesin geskoei is. Nes met die vorige twee reekse, staan Chuck Lorre, Steven Molaro en Steve Holland aan die kreatiewe bestuur van die projek.

Jim Parsons en Mayim Bialik, wat onderskeidelik die rolle van Sheldon Cooper en Amy Farrah Fowler in The Big Bang Theory vertolk het, sal ʼn verskyning in die laaste episode van Young Sheldon maak.

Die laaste episode van Young Sheldon se sewe seisoene sal in Mei vanjaar uitgesaai word.

Bykomende bronne: Billboard, Variety, HollywoodLife, BBC News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.