Hollywood: Marvel-akteur deel video vanuit hospitaal, ‘Romeo and Juliet’ se sterre wil dagvaar

Jeremy Renner het ‘n boodskap vanuit die hospitaal gedeel. (Foto: Jeremy Renner/Instagram)

Maroela Media bied jou ’n opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Marvel-akteur deel video vanuit hospitaal

Die Hawkeye-akteur, Jeremy Renner, het vir die eerste keer ’n video gedeel sedert hy op 1 Januarie vanjaar ernstige beserings opgedoen het terwyl hy sneeu geploeg het.

Die ongeluk, wat by sy huis naby Reno, Nevada, plaasgevind het, het die akteur in die hospitaal laat beland. Washoe County se sherrif, Darin Balaam, het in ’n verklaring gesê Renner was besig om sneeu op ’n private pad te ploeg.

Renner het sy eie ploeg, ’n PistenBully wat meer as ses ton weeg, gebruik om die sneeu weg te skraap. Hy het met ’n familielid gepraat toe die ploeg begin rol. Terwyl hy gepoog het om die ploeg tot stilstand te bring, het hy probeer om terug op die bestuurdersitplek te spring, maar is toe deur die bewegende ploeg getref.

Hy het sedertdien ’n Instagram-plasing gedeel waarin hy sy aanhangers bedank vir hul ondersteuning. In ’n latere video op Twitter het hy gewys hoe hy ’n bedbad in die hospitaal ontvang.

Romeo and Juliet-sterre wil dagvaar

Die akteurs, Leonard Whiting en Olivia Hussey, dagvaar Paramount Pictures vir seksuele mishandeling tydens die verfilming van die 1968-rolprent, Romeo and Juliet.

Olivia Hussey en Leonard Whiting. (Foto: Chris Delmas/AFP)

Dié twee akteurs, vandag in hul 70’s, beweer dat die regisseur van die fliek, Franco Zeffirelli, hulle aangemoedig het om sekstonele te doen ten spyte daarvan dat hulle vooraf beloof is dat dit nie gaan gebeur nie. Whiting was 16 en Hussey 15 tydens die verfilming van die rolprent.

Daar is gesê dat die akteurs vleeskleurige onderklere gaan dra tydens die verfilming van dié tonele, maar toe die dag aanbreek waarop die tonele geskiet is, het hulle bloot grimering gekry om te dra. Daarmee saam is daar na bewering beloof dat die kameras op so ’n wyse geplaas sou word om nie die akteurs te onbloot nie, hoewel Whiting se boude en Hussey se borste wel in dié tonele gesien kan word.

Die twee akteurs beskuldig Paramount Pictures van die verspreiding van naakmateriaal van tieners en dagvaar hulle vir meer as $500 miljoen (sowat R8 miljard).

Avatar: Way of the water onttroon Top Gun: Maverick

Die lankverwagte rolprent, Avatar: Way of the Water, het die voortou by die internasionale loket geneem en daarmee saam Top Gun: Maverick as voorloper onttroon.

‘Avatar: The way of water’. (Foto: IMDb)

Die rolprent het $1,5 miljard (sowat R25 miljard) by die internasionale loket laat inrol, wat vir sy plek op die lys van die 10 suksesvolste rolprente ooit gesorg het.

Avatar: Way of the Water is ook as die suksesvolste fliek wat in 2022 uitgereik is, aangewys.

Bykomende bronne: BBC News, The Hollywood Reporter  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.