Ig Nobelprys toegeken vir onderstebo renosters

Foto: Namibiese ministerie van omgewingsake

ʼn Studie in Namibië om renosters onderstebo te laat hang het gewys dat dit die beste manier is om dié diere te vervoer en is met ʼn Ig Nobelprys gekroon.

Die Ig Nobelprys is ʼn satiriese prys wat jaarliks sedert 1991 toegeken word om ongewone en skynbaar beuselagtige prestasies in wetenskaplike navorsing te vereer. Die doel van die pryse is “om prestasies te vereer wat mense laat lag, en hulle dan laat dink”. Die naam van die toekenning is ʼn woordspeling vir die Nobelprys en die woord ignoble (“not noble”). Die pryse word toegeken deur die Amerikaanse wetenskaphumor-tydskrif Annals of Improbable Research (AIR).

Die renosterstudie is vanjaar gekroon as wenner van die prys vir vervoernavorsing. Twaalf renosters is vir 10 minute onderstebo laat hang. Die veearts Robin Radcliffe en sy kollegas wou bepaal of dit nadelig sal wees vir ʼn renoster se gesondheid om aan sy bene te hang onder ʼn helikopter.

Omdat stropery só ʼn groot bedreiging is vir renosterbevolkings, moet organisasies en regerings aktief die renosterbevolking oor suider-Afrika bestuur. Die vangs en hervestiging van renosters vorm ʼn noodsaaklike deel van bestuur van renosterbevolkings.

Die rowwe terrein waarheen renosters geskuif moet word, maak vervoer met vragmotors onprakties en die Namibiese ministerie van omgewingsake vervoer swartrenosters reeds sedert 2010 met helikopters. Hulle word vir tot 30 minute só onderstebo vervoer.

Die fisiologiese effek van hierdie tipe hervestiging is egter nog nie ondersoek nie, tot ʼn onlangse studie deur Radcliffe en sy span in die Journal of Wildlife Diseases. Radcliffe het aan die BBC gesê Namibië is die eerste land wat die vraag gevra het of dit veilig is om renosters op só manier te vervoer.

Die Namibiese ministerie van omgewingsake het toe die studie onderneem en 12 swartrenosters, wat verdoof is, is met ʼn hyskraan opgehys en hul fisiese reaksie is gemonitor.

Die studie het bevind dat die renosters inderdaad beter vaar wanneer hulle aan hul pote opgehys word, eerder as om regop te hang of op hul sy te lê. Radcliffe vermoed dit het te doen met bloedvloei. Wanneer die renosters te lank op hulle sy lê, doen hulle spierskade op omdat hulle so swaar is.

Die Ig Nobelpryswenners ontvang ʼn trofee wat hulle self moet bou van ʼn .pdf-drukstuk in die vorm van ʼn 10 biljoen dollar-Zimbabwiese banknoot.

Klik hier om ʼn volledige lys te sien van wenners van die Ig Nobelprys vir 2021.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.