In Frankryk se ‘ovaalwêreld’ kraai rugby koning

In die dorpie Saint-Sulpice-sur-Leze draai die wêreld van die nagenoeg 2 000 inwoners om die lot van sy rugbyklub. (Foto: Valentine Chapuis/AFP)

In ʼn streek in die suidweste van Frankryk word die mure van kamers en kroeë nie met die foto’s van sokkerhelde Kylian Mbappe en Ousmane Dembele versier nie, maar met dié van Antoine Dupont, Cyril Baille en Romain Ntamack.

Hierdie streek is die Ovalie. Ovaalbalwêreld waar rugby koning kraai.

In die dorpie Saint-Sulpice-sur-Leze, wat uit die 13de eeu dateer en sowat 30 km suid van Toulouse geleë is, draai die wêreld van die nagenoeg 2 000 inwoners om die lot van sy rugbyklub.

Die klub is in 1912 al gestig en hoewel hulle nog nooit enige titel kon inoes nie, is daar altyd ʼn goeie opkoms wanneer die span op die veld van die Gaston-Sauret-stadion uitdraf vir hul jongste kragmeting in Federale 1, die hoogste vlak van amateurrugby in Frankryk.

(Foto: Valentine Chapuis/AFP)

Verlede seisoen het hulle die kans op promosie na National 2 misgeloop toe hulle net-net in ʼn kwarteindstryd teen Valence d’Agen verloor het. Gegewe die grootte van die dorpie, boks die klub beslis in ʼn veel hoër gewigklas – aangevuur deur die geesdrif van die gemeenskap.

(Foto: Valentine Chapuis/AFP)

Van die veld af pryk daar ʼn reusemuurskildery waarop “100 jaar van rugbypassie” uitgebasuin word. Dit is ʼn herinnering aan die dorpie se liefdesverhouding met die spel en daar gaan ongetwyfeld ʼn vrolike opkoms by die klub wees wanneer Frankryk op 8 September in die openingswedstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi teen Nieu-Seeland uitdraf.

Die Franse het die eindstryd van die wêreldbeker al drie keer gehaal, naamlik in 1987, 1999 en 2011, maar hierdie keer word daar gehoop op ʼn eerste titel in die glorieryke stryd.

Frankryk was die naaswenners van die Sesnasies-reeks en Fabien Galthie se span het kookwaterrugby gespeel met kaptein Dupont die nuwe generaal op skrumskakel.

(Foto: Valentine Chapuis/AFP)

Benewens die All Blacks, kom Frankryk ook teen Italië, Uruguay en Namibië in groep A te staan.

Die pad na die finaal gaan egter allermins seepglad wees: wêreldkampioen Suid-Afrika slyp sy tande en Sesnasies-kampioen Ierland mag nooit onderskat word nie. Ierland is boonop net een van twee spanne wat die Franse sedert hul nederlaag teen Australië in Julie 2021 kon klop.

Maar met tuisvoordeel en die Ovalie bankvas agter hulle, is enigiets sekerlik moontlik vir Les Bleus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.