Instagram, Whatsapp spog met nuwe funksies

whatsapp logo

Foto: Pixabay.com

Whatsapp, die gewilde boodskapdiens wat deur Meta (Facebook) besit word, het aangekondig dat hy veranderinge aangebring het aan die funksie wat boodskappe kan laat verdwyn.

Boodskappe sal nou ná 24 uur, sewe dae of 90 dae kan verdwyn.

Whatsapp-gebruikers sal die opsie hê om ʼn verstekverstelling aan te bring vir die duur wat ʼn boodskap beskikbaar sal wees. Boodskappe sal dan outomaties uitgevee word ná die vasgestelde tydperk.

Dié verstelling kan aangebring word vir alle nuwe gesprekke en sodra dit geaktiveer is, kan alle nuwe een-tot-een-gesprekke verdwyn ná ʼn vasgestelde tydperk.

Die boodskapdiens het ook ʼn nuwe opsie vir groepsgesprekke wat gebruikers toelaat om dié funksie aan te skakel op groepe. Die funksie is opsioneel en verander of vee nie bestaande gesprekke uit nie.

“Vir mense wat kies om te skuif na verstek-verdwynverstellings sal daar ʼn vertoonboodskap in die gesprek verskyn wat ander in kennis stel watter opsie jy gekies het. Dit maak dit duidelik dat dit nie persoonlik is nie – dit is ʼn keuse wat jy gemaak het oor hoe jy met mense wil kommunikeer op Whatsapp in die toekoms.

“As jy egter die behoefte het dat ʼn gesprek permanent beskikbaar moet wees, kan jy daardie opsie ook kies,” het Whatsapp in ʼn bloginskrywing gesê.

Whatsapp het ook nuwe privaatheidsfunksies wat gebruikers toelaat om hul inligting te versteek van sekere mense in hulle kontaklyste, volgens die webwerf WABetaInfo.

Hierdie opdatering gee gebruikers beheer oor inligting wat weergee wanneer hulle laatste gesien is op Whatsapp, profielfoto’s en biografiese inligting.

Gebruikers wat hierdie inligting versteek sal ook nie dieselfde inligting van die kontakte kan sien, waarvoor hulle hul persoonlike inligting afgeskakel het nie.

Whatsapp werk ook aan ʼn wêreldwye stemposboodskapfunksie wat gebruikers toelaat om na ʼn stemboodskap te luister terwyl hulle boodskappe van ander gesprekke lees en beantwoord.

Hierdie funksie het ten doel om gebruikers te help met multitaakverrigting. Dit sal dit egter nie moontlik maak om na stemboodskappe te luister terwyl die app toegemaak is nie.

Argieffoto (Foto: Souvik Banerjee/Unsplash)

Instagram het intussen die sogenaamde Take a Break-funksie aangekondig, wat gebruikers sal aanmoedig om tyd sonder die app deur te bring nadat hulle ʼn sekere tydperk daarop deurgebring het.

Die funksie sal in die komende maande eerste vir gebruikers in die VSA, Brittanje, Kanada en Australië beskikbaar gestel word.

Gebruikers kan die funksie onder “Settings” aanskakel en kies of hulle in kennis gestel word om dit te gebruik ná tien, 20 of 30 minute op die sosialemediaplatform.

Die funksie sal hulle dan aanraai om diep asem te haal, iets neer te skryf, ʼn doenlysie na te gaan of na ʼn liedjie te luister.

Bronne: Business Tech, CNN Business

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Martie Smartie ·

Hulle kan gerus funksionaliteit inbou om boodskappe te skeduleer. As jy iets wil stuur maar bv more oggend, moet jy dit kan skeduleer soos met Gmail.

TRP ·

Glad nie ‘n slegte idee, soms onthou mens iets op ongelee tye maar bang mens vergeet. Ek stem saam jou ideel.

SwartBees ·

Ek wag vir die update wat nog moet uitkom wat my die opsie bied om deel van n groep te wees.

Annelize ·

Ek sal graag ‘n funksie op Whatsapp wil sien wat die Admin van ‘n groep toelaat om self onvanpasde boodskappe of boodskappe wat niks met die spesifieke groep uit te waai het, uit te vee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.