Joernaliste wen Nobelprys vir vrede

Berit Reiss-Andersen, voorsitter van die Noorweegse Nobelkomitee met selfoonfoto’s van Maria Ressa en Dmitri Muratof (Foto: Heiko Junge/NTB/AFP)/Norway OUT

Die Nobelprys vir vrede is Vrydag toegeken aan verslaggewers Maria Ressa van die Filippyne en Dmitri Muratof van Rusland vir hul stryd om vryheid van uitdrukking in hul lande.

Die twee is geloof “vir hul pogings om vryheid van uitdrukking te beskerm, ʼn voorvereiste vir demokrasie en volgehoue vrede”, het die voorsitter van die Noorweegse Nobelkomitee, Berit Reiss-Andersen, gesê. “Hulle is verteenwoordigend van alle joernaliste wat vir dié ideaal opstaan in ʼn wêreld waar demokrasie en vryheid van die pers al hoe meer negatiewe toestande beleef.”

Maria Ressa

Maria Ressa, wenner van die 2021-Nobelprys vir vrede (September 2018) (Foto: Joel Saget/AFP)

Ressa (58) het aan Norwegian TV2 gesê sy is “geskok” en “emosioneel” oor dié groot eer. Volgens haar gee is dit “ʼn energie-inspuiting vir haar en haar kollegas om die stryd voort te sit”.

Ressa was in 2012 medestigter van Rappler, ʼn digitalemediamaatskappy vir ondersoekende joernalistiek. Sy staan steeds aan die hoof van dié maatskappy. Muratof is een van die stigters van die onafhanklike koerant Nowaja Gazeta.

Rappler “het kritieke aandag gefokus op die Duterte regime se omstrede, moorddadige teendwelm-veldtog”, het Reiss-Andersen bygevoeg. “Die getal sterftes is só hoog dat die veldtog lyk soos ʼn oorlog teen die land se eie bevolking.”

Sedert hy op 30 Junie 2016 in die amp aangestel is, het die Filippynse president Rodrigo Duterte ʼn “oorlog teen dwelmmiddels” uitgevoer wat reeds tot minstens 12 000 sterftes gelei het – hoofsaaklik stedelike armes in die Filippyne. Minstens 2 555 van dié moorde word toegeskryf aan die Filippynse nasionale polisie. Duterte en ander senior beamptes het die moorde aangehits in ʼn veldtog wat tot misdaad teen die mensdom neerkom. Human Rights Watch-navorsing het bevind die polisie vervals bewyse om die moorde te regverdig. Ondanks toenemende versoeke vir ʼn ondersoek, het Duterte onderneem om die veldtog voort te sit.

Ressa en Rappler het ook ondersoek ingestel hoe sosiale media gebruik word om vals nuus te versprei, opponente te teister en openbare gesprekke te manipuleer.

Ressa, ʼn voormalige CNN-korrespondent wat ook Amerikaanse burgerskap het, is tans uit op borgtog hangende ʼn appèlaansoek teen ʼn skuldigbevinding verlede jaar oor ʼn kuber-lastersaak. Sy kan moontlik tot ses jaar tronkstraf gevonnis word.

Dmitri Muratof

Dmitri Moratof, wenner van die 2021-Nobelprys vir vrede (Januarie 2009) (Foto: Rainer Jensen/dpa/AFP)

Muratof (59) is al dekades lank besig om vryheid van spraak in Rusland te beskerm onder toenemend uitdagende toestande.

Hy was in 1993 die stigter van Nowaja Gazeta, wat ʼn “fundamentele kritieke houding jeens mag het”, het die komitee gesê. Hy is sedert 1995 hoofredakteur by die koerant.

Nowaja Gazeta se teenstanders het reageer met teistering, dreigemente, geweld en moord. Sedert die koerant se eerste uitgawe is ses van sy verslaggewers doodgemaak, insluitend Anna Politkofskaja wat onthullende artikels geskryf het oor die oorlog in Tsjetsjnië.

“Ondanks die moorde en dreigemente het hoofredakteur Muratof geweier om die koerant se onafhanklike beleid te laat vaar,” het Reiss-Andersen gesê. “Hy het deurgaans die reg van verslaggewers verdedig om enigiets oor enige onderwerp te skryf wat hulle wil, solank as wat hulle aan die professionele en etiese standaard van joernalistiek voldoen.”

Vry, onafhanklike en feit-gebaseerde joernalistiek help om mense teen magsmisbruik, leuens en oorlogpropaganda te beskerm, het sy bygevoeg.

Nobelprys vir vrede

Die verwagting was dat mediawaghonde vanjaar vereer sou word met dié besonderse prys. Die Verenigde Nasies se humanitêre agentskap wat hongersnood bestry, die Wêreldkosprogram (WFP), het verlede jaar die prys ontvang.

Die toekenning se beeld is die afgelope paar jaar ʼn knou toegedien toe een van sy vorige pryswenners, Ethopië se eerste minister Abiy Ahmed, in ʼn oorlog betrokke geraak het. Nog een, Mianmar se Aung San Suu Kyi, is daarvan beskuldig dat hy die slagting van lede van die Rohingia-minderheid verdedig het.

Die prys – ʼn diploma, goue medalje en ʼn tjek vir 10 miljoen krone (sowat R17 miljoen) word gewoonlik op 10 Desember toegeken – die herdenking van die afsterwe van Alfred Nobel, skepper van die prys in 1896. Die Vredesprys is die enigste Nobelprys wat in die Noorweegse hoofstad toegeken word.

Dit is nog nie duidelik of Ressa en Muratof self na Oslo sal kan reis om die toekenning in ontvangs te neem nie, weens die pandemie. Die Nobel-instituut in Oslo sal na verwagting binne die volgende paar dae besluit of die seremonie aanlyn of in persoon sal plaasvind.

Die Nobelprys vir ekonomie sal na verwagting Maandag aangekondig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Martie Smartie ·

Hele Nobelprys komitee is ‘n klug. Ek hoor hulle sê oor die prys vir Letterkunde wat hulle aan ‘n Afrikaan toegeken het. Hulle weet nie eintlik waarna hulle kyk by letterkunde nie. Hulle weet net as hulle die regte boek raakloop. Dan gaan daar ‘n lig vir hulle aan. Watter klomp nonsens. Hoekom kry hulle dan nie ‘n internasionale paneel van letterkunde kenners om raad te gee nie? Klomp clowns wat Nobelpryse toeken.

cccp ·

Re. Abiy Ahmed en Aung San Suu Kyi: Julle het vergeet om ‘n ander “verdienstelike” wenner te noem, Barack Obama, wat net soveel, of meer, bomme op ander laat reën het as sy voorgangers, en heerlik deelgeneem het aan mense-slagtings in Sirië, Jemen, Afghanistan, ens.

Hoekom ·

Dwelms het meer mense vermoor as die regering, plus die dwelm handelaars het oor en weer oorlog gevoer, dus moes ernstige stappe gedoen word om die dwelms onder beheer te bring, en Duterte met sy ystervuis het seker gemaak dat normaliteit terugkeer. Duterte moes die Nobel prys wen. Nie ‘n joernalis wat net na die een sy kyk van ‘n 3-dimensionele prent nie.

Marshall ·

The Nobel Institute was captured by the Globalist Elite many years ago. They reward those who promote their Globalist agenda. Mr De Klerk did the bidding of his Globalist masters (the man in Stellenbosch and the man in Johannesburg), hence the so called Peace Prize, for creating the abomination we witness with escalating violence, rampant corruption, increasing poverty, skyrocketing interracial tensions and an imploding economy.
Time to rename it the Nobel Globalist Agent Prize. Putin and Duterte oppose the Globalist agenda, as did Dr Verwoerd. Anyone destabilizing nationalism in Russia and the Philippines will be rewarded.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.