Jonges dors vir dié peperduur fles

Die nou bekende “Stanley Quencher”-bottel. (Foto: www.stanley13.com)

As jy ʼn tiener of TikTokker in die huis het, is die kanse goed dat jy al van ʼn Stanley Cup, spesifiek die “Adventure Quencher Travel Tumbler”, gehoor het.

Dié peperduur flesse, wat maklik deur hul groot handvatsel en dik rubberstrooitjies uitgeken kan word, is een van die jongste oorsese giere op sosiale media om in Suid-Afrika vlam te vat.

Wat maak hierdie peperduur flesse, wat jou tussen R1 199 en R2 000 uit die sak sal jaag, so gewild?

Wie is Stanley?

Die Stanley-staalvakuumfles is in 1913 deur die Amerikaner William Stanley Jr. ontwerp.

Danksy sy werk met transformators het Stanley ontdek dat hy met ʼn unieke sweisproses ʼn vakuumbottel met staal eerder as glas kan isoleer, en die inhoud langer koud of warm hou.

Stanley is reeds in 1916 op die ouderdom van 57 oorlede. Sy handelsmerk is deur ʼn New Yorkse beleggingsmaatskappy oorgekoop wat voortgegaan het om nuwe produkte te ontwikkel en die produkreeks uit te brei.

Die nou bekende “Stanley Quencher”-bottel is in 2016 in skakerings van ʼn reeks sagte kleure bekendgestel met vroue as die teikenmark.

Hoewel vroeë verkope nie belowend was nie, is ʼn uiters suksesvolle beïnvloedersbemarkingsveldtog in 2019 vir die Quencher-fles van stapel gestuur ná Terence Reilly, voormalige uitvoerende hoof van Crocs, aangestel is.

Verkope van Quenchers het gevolglik tussen 2019 tot 2021 met 275% gestyg, met $750 miljoen se verkope die afgelope jaar, en ʼn wêreldmark wat toenemend dors is vir hulle slukkie uit dié gewilde fles.

Volgens ʼn berig van die New York Times, het Stanley-fleskoppies veral sedert 2022 onder gesondheids- en omgewingsvriendelikbewuste tieners op TikTok vlamgevat danksy die gerieflike grootte wat maklik in ʼn motor se bekerhouer pas, die vermoë om drankies byna heeldag koud of warm te hou, en die keuse wat dit bied om direk daaruit te sluk of uit ʼn strooitjie te drink.

Stanley Cup-drinkers kan selfs bykomstighede soos sakkies aankoop om hul fles te verpersoonlik.

Brande, lang toue en herverkoopherries

Die #StanleyCup hutsmerk het tot op hede byna 7,2 miljard trefslae wêreldwyd danksy die invloed van veral Amerikaanse TikTok-verbruikers en beïnvloeders.

Die handelsmerk se bewering dat die fles byna onbreekbaar is, is verlede jaar op die proef gestel toe TikTok-gebruiker @danimarielettering die binnekant van haar uitgebrande motor verfilm het. Dit wys haar Stanley-beker by die bestuurdersitplek, nog stewig en ongeskonde met gevriesde ysblokkies in.

Dié video het nagenoeg 9 miljoen kyke gekry en die Stanley-fles se oënskynlike duursaamheid nog verder bevorder. Sedertdien staan verbruikers toue, hetsy aanlyn of fisiek, om hul hande op ʼn Stanley Quencher-fles te kry.

@danimarielettering

Thirsty after you catch on fire? @Stanley 1913 is like no problem i gotchu #fyp #carfire #accident #stanleycup

♬ original sound – Danielle

Die BBC-berig dat die sogenaamde “Stanley craze” ook ʼn herverkoopkultuur geskep het, waar veral beperkte weergawes vir drie tot vier keer die verkoopsprys gesmous word.

Dié produk is tans nog skaars te vinde in Suid-Afrika en vlieg van winkels soos Trappers en Outdoor Warehouse se rakke af.

Die handelsmerk waarsku ook gedurig teen goedkoop, nagemaakte weergawes.

Die vraag is nou natuurlik hoe lank die Stanley-gier sal hou voordat verbruikers se belangstelling behoorlik daarvoor opdroog?

Bronne: BBC, CNBC, New York Times, The Guardian.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.