Jongste Bond-avontuur laat loketrekords spat

Daniel Craig by die première van ‘No time to die’. (Foto: Tolga Akmen / AFP)

Universal Pictures het Dinsdag gesê die nuwe James Bond-fliek, No Time to Die, het die franchise-rekord vir ʼn openingsnaweek laat spat. Dié laaste kragtoer van Daniel Craig as die aksieheld het net meer as $34 miljoen (sowat R512 miljoen) by die Britse loket ingeoes.

Die fliek het Donderdag in Brittanje en Ierland geopen en het Bond se grootste drie-dag-opening in sy geskiedenis van 60 jaar gehad.

Dit is Brittanje se grootste fliekuitreiking sedert die aanvang van die pandemie in 2020, ten spyte van die feit dat dit vier dae gelede uitgereik is, wat optimisme oor die kwynende bedryf se herlewing ontketen het.

Tot dusver het die fliek in 54 lande, insluitend Duitsland, Spanje, Brasilië en Japan, geopen en altesaam meer as $121 miljoen (sowat R1,8 miljard) verdien, sê Universal. Dit is die eerste Hollywood-uitreiking wat die $100 miljoen-kerf verbysteek, sonder dat China daarby ingereken word.

Die fliek, waarin Rami Malek, Lashana Lynch en Ana de Armas ook verskyn, het Vrydag in die VSA geopen.

Aanhangers in Brittanje het na fliekteaters regoor die land gestroom om die jongste 007-avontuur te beleef, 18 maande nadat die oorspronklike uitreiking beplan is.

Die fliek het ʼn rits goeie resensies ontvang. “Dit is beter as goed. Dit is uitstekend,” het Kevin Maher, The Times se fliekkritikus, gesê en het vyf sterre aan die fliek toegeken.

“Craig het ʼn charismatiese teenwoordigheid van die openingstoneel tot die laaste toneel en hy lê die tuig in ʼn ongelooflike, sielvolle styl neer.”

Kykers het egter negatief gereageer op die fliek se lengte van twee uur en 43 minute.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Karinb ·

Ai, dis darem maar ‘n mooie, mooie man, diė Daniel Craig. Die beste Bond naas Sean Connery.

Wakkerslaper ·

Ek is nou nie ‘n James Bond aanhanger nie, maar ek sal dalk die moeite doen om te gaan kyk. Dit is heel moontlik die laaste Bond film met ‘n blanke man as 007….

Karina ·

Dit is ‘n uitstekende fliek. Daniel Craig het die laaste tonele met ‘n gebreekte been voltooi, hy wou nie die verfilming staak vir 6 weke nie. Kyk gerus die film “Being James Bond the story of Daniel Craig” Ek sal dit weer ‘n keer kyk. Beste James Bond ooit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.