Kampus-klopjag op pro-Palestynse betogers

Talle polisiebeamptes is na die universiteit ontplooi. (Foto: Frederic J. Brown / AFP)

Tientalle pro-Palestynse betogers is Dinsdagaand tydens ’n reusepolisieklopjag by die Columbia-universiteit in New York in hegtenis geneem nadat hulle ’n gebou op kampus beset het.

Slagspreuke teen die Gaza-oorlog is teen die mure van Hamilton Hall in Manhattan geverf.

Honderde beamptes van die New Yorkse polisiedepartement (NYPD) is eindelik Dinsdagaand na die universiteit ontplooi waar beamptes deur ’n venster op die tweede verdieping toegang tot Hamilton Hall verkry en die een ná die ander geboeide betoger uit die gebou begelei het.

Studente wat buite die saal gestaan het, het die polisie uitgejou. “Bevry, bevry, Palestina!” en “Skaam julle” het sommige geskree.

Polisiebeamptes verkry toegang tot Hamilton Hall. (Foto: KENA BETANCUR / AFP)

Tientalle betogers, almal geboei met kabelbinders, is eindelik in busse gelaai en weggery.

’n Tentkamp wat betogers sowat twee weke gelede op kampus opgerig het, is ook tydens die klopjag verwyder.

Die pro-Palestynse groep Columbia University Apartheid Divest beweer polisiebeamptes het die kampus “gewelddadig binnegeval” en beskuldig hulle daarvan dat hulle betogers “brutaal aangeval” het.

Die tentekamp wat by Columbia opgerig is. (Foto: ETIENNE LAURENT / AFP)

Columbia, ’n Ivy League-universiteit wat destyds die tuiste van die studentebeweging teen die Viëtnam-oorlog in die laat 1960’s was, was die afgelope twee weke die episentrum van woede oor Israel se oorlog teen Gaza.

Die betogers eis dat Columbia alle finansiering aan Israel staak.

Minouche Shafik, president van Columbia, het egter in ’n brief aan die polisie gesê die saal is beset deur “individue wat nie aan die universiteit verbonde is nie”.

Pro-Palestynse betogers by Columbia. (Foto: Jia Wu / AFP)

Sy het die polisie gevra om tot minstens 17 Mei op kampus te bly om te verseker dat daar nie nog tentkampe opgerig word nie.

Amerikaanse polisiebeamptes het teen Woensdag gespook om soortgelyke betogings by tientalle universiteite oor die hele Verenigde State in bedwang te bring. Dit sluit in kampusse in Texas, Kalifornië, Georgië, Noord-Carolina, Utah, Virginië, Nieu-Mexico, Kalifornië, New Jersey, Connecticut en Louisiana.

By die Universiteit van Kalifornië in Los Angeles het pro-Israelse en pro-Palestynse betogers mekaar  vandag gepak nadat skooladministrateurs ’n tentkamp op dié kampus verwyder het.

Meer as 1 000 betogers is in dié stadium in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.