Kanadese posdiens vereer ‘The Handmaid’s Tale’-skrywer

Die Kanadese posdiens het Donderdag ʼn seël met Margaret Atwood se foto daarop onthul. (Foto: Handout/Canada Post/ AFP)

Die Kanadese posdiens het Donderdag die 60-jarige skryfloopbaan van The Handmaid’s Tale-skrywer Margaret Atwood gevier deur ʼn seël met haar foto daarop te onthul.

Atwood, wat in Ottawa gebore is, het tydens die seremonie by ʼn biblioteek in Toronto op humoristiese wyse op die “onverwagse eer” gereageer. Sy het vriende en familie verwelkom, asook “diegene wat van plan is om haar te spot omdat sy op ʼn seël is”.

“Op ʼn stempel, regtig, die vermetelheid,” het sy droogweg gesê en bygevoeg: “Wees voorbereid op ʼn klomp grappies oor lek en vashou, om nie eens te praat van kansellasie en filatelie nie.”

Sy het toe haar seëlversameling uit haar kinderdae onthou met sommige seëls wat van koeverte afgeruk is en ander wat uit asblikke gehaal is.

Die nuwe seël bevat ʼn prentjie van Atwood waar haar oë toe is en een hand op haar wang rus. Die woorde “A word after a word after a word is power” uit haar gedig “Spelling” verskyn saam met die foto.

Atwood het die onthulling as ʼn geleentheid gebruik om haar stem dik te maak oor klimaatverandering en ʼn beroep op mense gedoen om geslagsdiskriminasie te beëindig.

Die bekroonde skrywer het al sowat 50 werke die lig laat sien, waaronder romans, kort fiksie en poësie, en het miljoene boeke verkoop wat in meer as 30 tale vertaal is.

The Handmaid’s Tale, wat die verhaal vertel van vroue wat van hul regte ontneem en as seksslawe gebruik word, is in 1985 uitgegee. Dit bly vandag steeds relevant danksy Hulu se Emmy-bekroonde televisieverwerking.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.