Kanye West wil weer probeer president word

Kanye West (Foto: AP Photo/Evan Vucci, File)

Kanye West is van plan om hom weer as kandidaat vir die Amerikaanse presidentskap in 2024 verkiesbaar te stel.

Die kletsrymer, wat sy naam wettiglik na Ye verander het, het Vrydag ’n video van sy veldtoglogo op Twitter geplaas met die hutsmerk #Ye24.

Hy het ook beweer dat hy oudpres. Donald Trump gevra het om sy verkiesingsmaat te wees. Trump het egter glo die versoek van die hand gewys toe West hom Woensdag by sy Mar-a-Lago-landgoed in Florida besoek het.

“Trump het basies aan tafel op my begin skree en vir my gesê ek gaan verloor,” beweer die kletsrymer nou.

West het hom ook in 2020 verkiesbaar gestel, maar sy presidensiële veldtog het misluk. Die kletsrymer het toe maar ’n skamele 70 000 stemme verwerf.

West wil nou weer probeer te midde van omstredenheid.

Maroela Media het vroeër berig onlangse antisemitiese uitlatings het hom nie net sy Adidas-vennootskap gekos nie, maar ook sy miljardêrstatus.

Hy het ’n herrie ontketen toe hy vanjaar by die Paryse Modeweek in Frankryk opgedaag het in ’n T-hemp met die slagspreuk “White Lives Matter” – ’n frase wat deur wit oppergesagte aangeneem is en wat dit in 2015 begin gebruik het in  reaksie op die Black Lives Matter-beweging.

Die modemaatskappye Gap en Balenciaga het intussen ook aangekondig dat hulle nie verder saam met hom gaan werk nie.

Bykomende bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sonblom ·

En ons dink SA is ‘n sirkus? Ek dink VSA is kort kop voor ons.

Human ·

As hy gekies word as President en “Dumbty Trumpty” as sy Vise President is die kansvatters bymekaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.