Kenia se geliefde olifant sterf

Tim (Foto: Wildlife Workshops)

Die Kenya Wildlife Service (KWS) het Woensdag gesê hul geliefde olifant, Tim, is oorlede.

Tim, een van die Amboseli-park se grootste en bekendste olifante, het Dinsdagoggend in die ouderdom van 50 in die Mada-gebied van die park gesterf.

“Die bestuur van die park het die toneel besoek. Die karkas is op pad na die Nasionale Museum van Kenia in Nairobi sodat ʼn taksidermis dit kan voorberei vir bewaring vir opvoedkundige en uitstallingsdoeleindes.”

Tim was een van Afrika se laaste groottand-olifante in die oop, afgeleë wildernis in die suide van Kenia. Tim, bekend as die groot patriarg van Amboseli- nasionale park, is in 2016 met ʼn groot klip oor sy kop geslaan en sy oor is met ʼn spies deurboor. Die punt van die spies het in sy skouer vasgesteek. Kenia se natuurbewaringsgroepe het hom verdoof en behandel en hy is daarna weer in Amboseli losgelaat. Daar is uiteindelik bevind die beserings is nie vanweë stropers nie, maar van ʼn gemeenskap waar Tim glo te naby gedwaal het.

Tim het in 2018 weer in die moeilikheid beland toe hy in die park se moeras vasgesit het. Hy is uiteindelik bevry ná hy tussen 12 en 14 ure lank in die modder vasgekeer was.

Olifantfamilies word gewoonlik deur ʼn matriarg gelei en die bulle leef gewoonlik in afsondering sodra hulle seksuele volwassenheid bereik. “Tim was egter altyd welkom om saam met ander koeie en hul families te wei. Hy was rustig en beskeie,” het Kenia-natuurbewaring bygevoeg. “Hy was ʼn vredemaker en welwillend. Hy was welbekend en geliefd in Kenia.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SomeOne ·

dis so ‘n jammerte dat “beroemde” olifante ook aan die einde van hul leeftyd kom

jzjz05 ·

Hy was ook een van die kampione van die twintigste eeu saam met Duke en ander van die krugerpark. Jammer om hom te sien gaan maar hy sal n opvolger kry, miskien nog een van sy eie seuns.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.