Kevin Spacey in hof oor seksuele klagte

Kevin Spacey. (Foto: Jemal Countess / AFP)

Die Hollywood-akteur Kevin Spacey is amptelik van seksuele aanranding aangekla en sal Donderdag in die Westminister-magistraatshof in Londen verskyn.

Die 62-jarige Oscar-wenner staan op vier aanklagtes van seksuele aanranding teenoor drie mans tereg.

Die klaers het verlede maand aangekondig dat hulle klagtes teen Spacey aanhangig gemaak het. Spacey was tussen 2004 en 2015 die kreatiewe direkteur van die Londense Old Vic-teater.

Spacey het in reaksie hierop gesê hy is “teleurgesteld” oor die besluit, maar dat hy vrywillig in die hof sal verskyn waar hy homself sal verdedig.

In ʼn verklaring aan die televisieprogram Good Morning America het die akteur gesê hy is vol vertoue dat hy sy onskuld sal bewys.

Bewerings van seksuele aanranding en teistering teen Spacey het vir die eerste keer met die aanvang van die #MeToo-beweging aan die lig gekom. Dit het tot ʼn ondersoek deur die Londense metropolisie gelei, asook ʼn ondersoek na die tydperk wat Spacey by The Old Vic werksaam was.

Beperkings is nou op verslagdoening geplaas om te verhoed dat die media in fyn besonderhede oor die klagtes teen Spacey berig sodat die jurie nie in enige moontlike verhoor beïnvloed word nie.

Volgens die metropolisie spruit die eerste twee aanklagte van seksuele aanranding in Londen uit ʼn beweerde voorval in 2005. Albei klagtes het betrekking op dieselfde man wat nou in sy 40’s is. Die derde klagte hou verband met ʼn beweerde voorval wat in Augustus 2008 ook in Londen plaasgevind het. Dié beweerde slagoffer is nou in sy 30’s.

Die vierde klagte spruit uit ʼn voorval wat glo in April 2013 in Gloucestershire, in die weste van Engeland, plaasgevind het. Dié klaer is ook nou in sy 30’s.

Spacey was al verskeie kere in die sop weens aanklagte en bewerings van seksuele teistering en ‑aanranding teen hom.

Maroela Media het vroeër berig dat Spacey se ondergang begin het toe die akteur Anthony Rapp, wat veral bekend is vir sy rol in die rolprentweergawe van die musiekblyspel Rent, in November 2017 tydens ʼn onderhoud met BuzzFeed gesê het hy het in 1986 ʼn partytjie bygewoon wat deur Spacey (58) gereël is.

Volgens Rapp, wat ten tyde van die beweerde voorval 14 jaar oud was, het Spacey bo-op hom gelê op ʼn bed nadat die ander gaste reeds weg was.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

KatjieDeKat ·

So jammer, hy was op n tyd my gunsteling akteur. Maar ek kan nie meer dit se nie. Mense wat hulself opdring aan ander en seksuele aanranding of molestasie laat mens alle goeie dunk of “hou van hulle” verloor.

Twallie ·

Briljante akteur, maar ons vergeet soms dat hulle in hul eie mal wêreld leef wat nie strook met normale mense nie, maar eerder ‘n tipe van La La Land is vir super ryk mense, met mense rondom jou wat jou heeldag ophemel. Dan dink hulle die normale reels geld nie vir hulle nie en jaag sulke siek nonsens aan.

Miena ·

Was die 14jarige se ouers ook saam hom by die partytjie? Hoekom n 14jarige alleen na n partytjie toe laat gaan as daar net volwassenes is en geen van sy eie portuur nie?

Niklaas ·

Laat Kevin maar dapper gaan verskyn in die hof . Die volle waarheid sal spoedig uitkom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.