‘KI-dokter’ kan goed voorspel of jy gaan sterf

Argieffoto (Foto: Tumisu/Pixabay)

Kunsmatige intelligensie (KI) het bewys dat dit nuttig is vir die ontleding van mediese beelding en dit het selfs getoon dat dit dokters se lisensiëringseksamens kan slaag.

Nou het ʼn nuwe KI-instrument die vermoë gedemonstreer om dokters se aantekeninge te lees en akkuraat te voorspel wat pasiënte se risiko van afsterwe is, hul heropname in die hospitaal en ander uitkomste wat belangrik is vir hul sorg.

Die sagteware is ontwerp deur ʼn span by die NYU Grossman School of Medicine en word tans gebruik by die universiteit se geaffilieerde hospitale regdeur New York, met die hoop dat dit ‘n standaard deel van gesondheidsorg sal word.

ʼn Studie oor die waarde van die hulpmiddel se voorspellings is Woensdag in die tydskrif Nature gepubliseer.

Hoofskrywer Eric Oermann, ʼn neurochirurg en rekenaarwetenskaplike by NYU, het aan AFP gesê dat hoewel nie-KI-voorspellingsmodelle al lank in die medisyne bestaan, word dit min in die praktyk gebruik omdat die data wat dit benodig, moeisame herorganisasie en formatering vereis.

“Een ding wat egter algemeen in gesondheidsorg is, is dat dokters aantekeninge maak oor wat hulle in die kliniek gesien het en wat hulle met pasiënte bespreek het,” het hy gesê. “Ons basiese insig was dus: Kan ons met mediese aantekeninge as ons databron begin, en dan voorspellingsmodelle daarop bou?”

Die groot taalmodel, genaamd NYUTron, is opgelei met miljoene kliniese aantekeninge uit die gesondheidsrekords van 387 000 mense wat tussen Januarie 2011 en Mei 2020 behandeling ontvang het by NYU Langone-hospitale.

Dit het enige rekords ingesluit wat deur dokters geskryf is, soos pasiëntvorderingnotas, radiologieverslae en ontslag-instruksies, wat ʼn 4,1 miljard-woordkorpus tot gevolg gehad het.

Een van die groot uitdagings vir die sagteware was die interpretasie van die natuurlike taal wat dokters gebruik, wat aansienlik van persoon na persoon kan verskil, insluitend die afkortings wat hulle verkies.

Deur rekords te hersien van wat werklik gebeur het, kon die navorsers bereken hoe dikwels die sagteware se voorspellings korrek was.

Hulle het ook die hulpmiddel in werklike omgewings getoets deur dit op te lei met rekords van byvoorbeeld ʼn hospitaal in Manhattan en te kyk hoe dit vaar in ʼn hospitaal in Brooklyn met verskillende pasiëntdemografieë.

Nie ʼn vervanging vir mense nie

Alles in ag genome het NYUTron ʼn verbysterende 95% van mense geïdentifiseer wat in die hospitaal gesterf het voordat hulle ontslaan is, en 80% van pasiënte wat binne 30 dae weer opgeneem sou word.

Dit het die meeste dokters oortref met sy voorspellings, sowel as die nie-KI-rekenaarmodelle wat vandag gebruik word.

Maar tot die span se verbasing het “die mees senior dokter, wat eintlik ‘n baie bekende dokter is, bomenslik presteer – selfs beter as die sagteware,” het Oermann gesê.

“Die ideale punt vir tegnologie en medisyne is nie noodwendig dat dit altyd buitengewone resultate sal lewer nie, maar dat dit die basis werklik sal verhoog.”

NYUTron het ook die verblyfduur van 79% van pasiënte korrek beraam, 87% van gevalle waar pasiënte se dekking deur mediese versekering geweier is, en 89% van gevalle waar ʼn pasiënt se primêre siekte met bykomende toestande verband gehou het.

KI sal nooit ʼn vervanging vir die dokter-pasiënt-verhouding wees nie, benadruk Oermann. “Dit sal eerder dokters van meer inligting voorsien sodat hulle beter ingeligte besluite kan neem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Andrew ·

Tot die doktors net vir die computer begin luister, dan kry jy n “the seestem is down” as jy hospitaal toe gaan

Pieter ·

Soos met meeste goed in die wereld volg alles ‘n proses en kan gemap word. Wat ons mense wel nodig het is gesonde persoonlike menslike interaksie…

melaney ·

Ons is almal bestem om te sterf. Wat ons mense nodig het is gesonde menslike verstand.

Ryan ·

Ek wonder of n mens n praktyk kan begin met n KI dokter, en of mediese fondse vir die ‘konsultasie’ sal betaal?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.