Kitaar wat bekende rockgroep opbreek, verkoop

Die betrokke Gibson-kitaar. (Foto: Artpeges gallery)

ʼn Gibson-kitaar wat ʼn hand daarin gehad het dat die bekende Britse rockgroep Oasis uitmekaar is, is Dinsdag vir meer as €380 000 (byna R6,5 miljoen) tydens ʼn veiling in Parys verkoop.

Jonathan Berg, ʼn kitaarkenner en medestigter van die Artpeges-galery wat die veiling gehou het, sê Noel Gallagher se verwoeste kitaar by die Franse Rock-en-Seine-fees in 2009 was ʼn “kultus-oomblik” in die musiekgeskiedenis.

Die betrokke kitaar, wat in 2011 gerestoureer is, is Dinsdag in sy oorspronklike houer en ʼn nota van die voormalige eienaar, geteken “Peace, love and bananas”, aangebied.

Bieëry het begin by €150 000 (R2,5 miljoen), maar dit is eindelik verkoop vir €300 000 plus ʼn fooi van €85 500.

Arthur Perault, medestigter van Artpeges, het gesê hy is tevrede met die uitkoms van die veiling.

Oasis, wat deur die Gallagher-broers Liam en Noel gestig is, het wêreldwye sukses behaal deur 60 miljoen albums en treffers soos Wonderwall en Don’t Look Back In Anger te verkoop.

Die groep sou na verwagting teen die einde van hul jaar lange wêreldwye Dig Out Your Soul-toer in 2009 by die betrokke fees opgetree het, maar dinge was al ʼn tyd lank suur tussen die twee.

“Die spanning het eindelik agter die verhoog van die fees ontplof. Een van Noel se kitare het gebreek en dit het daartoe gelei dat die groep uiteengespat het,” sê Berg.

ʼn Gretige skare wat gewag het vir die paar om te verskyn, was verstom om die boodskap te kry dat Oasis ʼn ding van die verlede is.

Die broers se dramatiese uittrede uit die bedryf het tot jare lange bakleiery in die media en sosiale media tussen die twee gelei, maar dié het eindelik ook afgekoel.

Albei het voortgegaan om musiek te maak sedert hul paaie geskei het, maar het herhaaldelik die moontlikheid afgeskiet dat Oasis weer bymekaar sal kom.

Altesaam 85 lotte is vandeesweek by die Hotel Drouot, die hoofveilingsterrein in Parys, aangebied, waaronder 1960’s-klankversterkers, syskermafdrukke van Pink Floyd-albums en foto’s van rocksterre.

ʼn Seldsame vinielplaat, geteken deur Jimi Hendrix en die geliefde Franse rocker Johnny Hallyday, is ook op dié dag vir meer as €10 000 (byna R170 000) verkoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JM ·

Die geestelike en morele vervlakking van die mensdom. Miljoene is honger, maar R6,5 word vir ‘n kitaar betaal. Siek!

Nommer 7 ·

‘n 1960 Gibson sal altyd ‘n klomp geld werd wees. As dit ‘n geskiedenis by het, nog meer. Moet by se^, ‘n goeie handgemaakte klassieke kitaar kan tot $200,000 kos (in Amerika).

Swanie ·

Aardse goedjies en aardse geltjies en party wens net vir n droë broodjie

Frank John ·

Ek sien dat geen mens meer baie geld op uitspattige dinge vir hulself mag spandeur nie want waneer dit in die nuus verkondig word dan word daar onmiddelik veroordeeling teen die spandeurder gepraat. Neerhalend en word gesê dat hul liewer die geld op kos kon spandeur om behoetiges te help. In baie gevalle is die mense met die baie geld reeds besig om groot hoeveelhede geld op ander te spandeur om te help. Maar selfs toe duur olie op Jesus se hoof uitgegiet is het van die dissipels ook gekla en die selfde storie aangehaal. Die geld kon op die armes gespandeur word. Maar dis al oor en oor bewys dat armes bly in meeste gevalle arm, maak nie saak hoeveel hulp en geld jy op armes spandeur nie. Baie armes wat skielik rykdom verwerf nie lank ryk bly nie, hulle is binne ‘n paar jaar weer arm.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.