Klimaatsverandering, leë beloftes: Tsjad se katoenboere steier

Vir dekades was katoen die lewensbloed van die suide van Tsjad maar die gesogte gewas se toekoms hang in die weegskaal. (Foto: Yasmine Canga-Valles/AFP)

Declador Rimleldeoudje stap deur die landery met duisende stronke wat hy hoop ʼn skitterende katoenoes gaan oplewer – maar hy weet ook alte goed die toekoms van Tsjad se sogenaamde wit goud is net so onvoorspelbaar soos die reën.

Vir dekades was katoen die lewensbloed van die suide van Tsjad. Maar die gesogte gewas se toekoms hang in die weegskaal.

By die ingang na die dorpie Kagtaou, sowat 60 km buite Moundou, die hoofstad van die suide, staan ʼn reusehouer tot barstens toe vol katoen.

CotonTchad, ʼn semi-private maatskappy wat veronderstel is om die katoen te koop, het steeds nie dié belofte nagekom nie en produsente vrees die onvoorspelbare reën gaan die oes verwoes selfs nog voor dit verkoop is.

“Ons hou van katoen, maar dit word net te moeilik. Die klimaat is onbestendig en dit is ʼn werklike kommer. Dit raak die tonnemaat,” verduidelik Rimleldeoudje terwyl hy sy oë skreef teen die skroeiende son.

Die 24-jarige boer se winste het getuimel tot ʼn derde van wat dit in die vorige jaar was.

Byna almal in Kagtaou verdien ʼn inkomste uit katoen.

Maar al hoe meer van hulle is op moedverloor se vlakte weens die skade wat klimaatsverandering – en die voortslepende konflik tussen boere en nomadiese veewagters – aanrig.

“Bewyse van klimaatsverandering – ongereelde reënval wat soms droogtes en soms sporadiese vloede veroorsaak – lei tot groot dalings in produksie,” sê Laohote Baohoutou, ʼn klimatoloog verbonde aan die N’Djamena-universiteit.

Klimaatsverandering

Dit was eens een van Tsjad se florerendste landbousektore, maar nou het die katoenbedryf as ʼn gedeelte van BBP getuimel. (Foto: Yasmine Canga-Valles/AFP)

Nomadiese veeboere uit die droë Sahel-streek in die noorde jaag hul diere deur die landerye wat aan boere in die suide behoort, of hulle laat die diere daar wei. Daar is ook dispute oor aan wie sekere stukke grond behoort.

In Maart is minstens 23 mense dood in gevegte wat ʼn week lank geduur het. Vroue en kinders is dikwels die slagoffers van dié gereelde konflik.

Intense reën is ʼn nuwe bedreiging. Die Verenigde Nasies (VN) sê oorstromings in 2022 het meer as 350 000 ha se gewasse verwoes en tot 20 000 veevrektes in die land gelei.

Die suide is die swaarste getref.

“Dit is regtig ontmoedigend,” sug Rimleldeoudje.

“Dit voel of die suide nie eens meer op ʼn kaart van Tsjad verskyn nie. Ons kry geen finansiële steun nie.”

Sedert April het Afrika verskeie uiterste klimaatgebeurtenisse ondervind.

Die weste het gesteier onder hittegolwe met temperature van tot 48 °C.

Die ooste is weer gepeper met stormreën wat dodelike vloede in Kenia en Tanzanië veroorsaak het.

Vergete

Declador Rimleldeoudje maak een van sy katoenlanderye skoon. (Foto: Yasmine Canga-Valles/AFP)

Dit was eens een van Tsjad se florerendste landbousektore, maar nou het die katoenbedryf as ʼn gedeelte van BBP getuimel. Uitvoere het van 2,15% in 2015 tot 0,7% in 2020 gedaal, luidens syfers van die Wêreldbank.

Die vooruitsigte vir Tsjad se wit goud gaan ook ʼn invloed hê op kiesers in die suide van die land wanneer sowat 18 miljoen stemgeregtigdes Maandag vir ʼn nuwe president stem.

Mahamat Idriss Deby Itno, wat drie jaar gelede ná ʼn staatsgreep beheer van die land oorgeneem het, ding mee met die eerste minister wat hy in Januarie aangewys het.

Sommige glo Succes Masra, eens ʼn teenstander en nou ʼn bondgenoot van Deby, is ʼn skynkandidaat wat daar is om die illusie van demokrasie te skep tydens ʼn verkiesing wat Deby lag-lag gaan wen.

Ander sê weer Masra (40), wat groot skares ondersteuners lok, is ʼn werklike kandidaat en dat hy Deby tot in ʼn tweede verkiesingsronde kan dwing.

Jean Benaudji, hoof van die vereniging van katoenprodusente in Kagtaou, is van plan om vir Masra te stem.

“Hy is die enigste een wat steun vir die katoenprodusente kan verseker; produsente wat vergeet en agtergelaat is deur die res van die land,” sê hy.

Masra, uit die suide, maak beloftes van “geregtigheid en billikheid” wat aanklank vind by baie werklose katoenprodusente wat niks kry wanneer hul gewasse deur ander se vee of reën verwoes word nie.

“Sy slagspreuk is geregtigheid, gelykheid en vrede. Dit is wat ek wil hê en dit is hoekom hy my stem gaan kry,” sê Rimleldeoudje.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

OneWheel ·

Die opdroog van die Aral Sea in Rusland in 1959, was seker ook as gevolg van “klimaatsverandering” en enige bewering dat katoenboerdery, swak beplanning en twyfelagtige landboupraktyke daartoe bygedra het, is seker misinformasie…

andre ·

Plant cannabis of hemp of dagga,ek weet nie eintlik die verskil .Hierdie plante het baie moontlikhede,klere ,bio fuel,boumateriaal.Hulle gebruik baie minder water en insekte val hulle nie aan nie.Dan is daar ook medisinale gebruik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.