Koronavirus: ‘Berei voor vir pandemie’

Mense loop Sondag met maskers in Tehran, Iran. (Foto: Ebrahim Noroozi, AP)

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het gesê alle lande behoort meer te doen om voor te berei vir ’n moontlike pandemie in die lig van die dodelike koronavirus, oftewel Covid-19. Dié virus het reeds meer as 2 600 lewens geëis. Meer as 77 000 bevestigde gevalle is reeds aangemeld.

Standard Bank het intussen aangekondig dat hy R750 000 aan China geskenk het om die virus te beveg. Die meeste sterftes en gevalle is in dié land aangemeld.

Sim Tshabalala, uitvoerende hoof van Standard Bank, sê hoewel daar ’n aansienlike behoefte aan finansiële inspuitings in Suid-Afrika is, kan maatskappye nie bloot hande gevou sit tydens ’n wêreldwye ramp wat reeds die ekonomie wêreldwyd beïnvloed nie.

“Hierdie siekte, hierdie epidemie, kan die hele wêreld beïnvloed en dit is in ons eie belang om die uitwissing daarvan te verseker. Dit is nie net ’n Chinese kwessie nie, dit beïnvloed die hele wêreld,” het Tshabalala Maandag in Johannesburg gesê.

Koronavirus

Aandelemarkte het wêreldwyd skerp gedaal te midde van die uitbreking. (Foto: Eugene Hoshiko, AP)

Geen gevalle is tot dusver in Suid-Afrika aangemeld nie. Die nasionale instituut vir oordraagbare siektes (Nios) het bevestig hy het reeds 116 individue sedert die uitbreking van die koronavirus getoets. Nie een van dié individue het positief vir Covid-19 getoets nie.

Die Nios sê hy is egter op hoë gereedheidsgrondslag te midde van die toenemende getal gevalle wat in Italië, Suid-Korea en Iran aangemeld word. “Dit dui daarop dat gemeenskapsoordrag in sommige instellings buite China kan plaasvind,” sê Sinenhlanhla Jimoh, woordvoerder van die Nios.

Meer as 1 200 gevalle is in ongeveer 30 ander lande bevestig met meer as 20 sterftes. Italië het Maandag nog vier sterftes aangemeld. Die virus het dus reeds sewe lewens in dié land geëis.

Aandelemarkte het wêreldwyd skerp gedaal weens kommer oor die uitwerking van die virus op die ekonomie.

China het ook gesê hy gaan die jaarlikse vergadering van die National People’s Congress volgende maand uitstel om sy stryd teen die koronavirus voort te sit.

Dié liggaam bekragtig besluite deur die Kommunistiese Party en vergader sedert 1978 jaarliks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Vriendelike Frikkie ·

Pleks Standard Bank skenk die geld om mense se omstandighede plaaslik te verbeter. China het genoeg geld van ander lande af gemaak dat hulle na hulself kan omsien. R750 000 kan heelwat toerusting koop om plaaslik die siekte onder beheer te hou wanneer dit uiteindelik hier opdaag.

Belinda ·

Moet ons nie eers basiese Mediese geriewe in ons land opskerp nie.

Werner ·

Almal berei voor behalwe SA ons het nie eens grensbeheer nie of werkende staats hospitale seker daai virus is lankal hier

charmaine ·

Standard Bank kon die geld vir boere geskenk wat onder droogte gebuk gaan. Maar ons help eers ander voor ons, ons eie mense help. Maar die Standard Bank is eintlik van Chineese afkoms.

Toy ·

Die geld kon regtig beter aangewend geword het hier in Suid-Afrika, hulle kon hier ‘n hospitaal reggekry het wat ordentlik toegerus is vir sulke gevalle en asb tog net personeel wat wil werk en jou nie met ‘n traagheid aangaap en sleepvoete loop nie.

Tom ·

Koronavirus is lankal in Afrika, waneer dit gevind word is dit te laat.

Cherokee ·

Miskien is dit moeder natuur se manier om bevolkingsbeheer toe te pas, as die mens dit nie self kan doen nie. Die aarde steier (dalk) onder die krioelende massas en die diere en wildernis ly daaronder. Miskien is dit die natuur wat ingryp.

Gato ·

2600 sterftes is baie mense maar as dit vergelyk word met die meer as 20 000 mense wat ELKE jaar (nie een keer in ‘n dekade of meer nie) maar ELKE jaar, in SA vermoor word is dit ‘n druppel in die emmer.
Jammer die WGO het nie ‘n entstof teen moord en geweld nie.

Pampoen ·

Hou maar in gedagte dat Standard Bank grotendeels aan China behoort ….. Ek wonder hoe moet ‘n land en ook individue op so ‘n moontlike pandemie voorberei. Ek het nou die dag gesien hulle het 10 laptops in ‘n kamer gesit en dit die krisis-sentrum genoem. Dis lagwekkend, maar wat staan ons en ons land en die NICD te doen?

Johann ·

Ja wat, R750k is ook maar eintlik nie meer baie geld nie of veel werd nie, dit is in elk geval reeds water on die brug deur. Daar sterf ook in elk geval miljoene mense jaarliks aan longontsteking en erge gewone griep. Ek hoor elke winter maar van bejaardes wat net in my leef-wêreld van griep of longontsteking sterf. Ek maak egter nie die Coronavirus as niks af nie, maar ek gaan ook nie paniekerig raak nie. Ek het wel voorbereiding getref en sou die virus hier land en ons in ons huise moet bly moet ons net nie soos mense in China onkant betrap word nie.

Nel ·

Die statistieke is alreeds verouderd en die dag nog lank nie verby nie. Die WHO het dit nou ‘n pandemie verklaar met 80200 gevalle in 34 lande. En ‘n gevestigde geval in Djibouti

Charmain ·

Wie besit die meerderheidsaandeel in Standard Bank? Interessant né….

Cobus ·

Los hulle…die wiel draai…is elke cheval nie hulle geld nie maar geld uit die bankrekening houers se sakke…

Wonder net ·

Pleks dat hulle die geld eerder aanwend vir mediese toerusting in SA vir ‘n geval. En ja, stem saam dat daar dalk al meer as een geval hier is, waarvan ons nie bewus is nie. Daar is soveel Chinese en Japanese winkels met mense wat van die Chinese New Year celebrations af kom, dat dit nie onmoontlik is vir iemand om die virus hierheen te kon bring nie. Die vraag is net, hoe gereed is SA om die uitbraak te beheer as alle beskikbare fondse dan na China toe betaal word, ongeag of hulle die meerderheid aandeelhouers is? Of vergeet hulle dat ‘n groot meerderheid van ons bevolking ook Chinees is?

Amanda ·

Ja, daardie geld kom van Suid Afrikaners en dit is regtig oorbodig om dit aan China te gee. Swak besluit Mnr Tshabalala! Hoekom nie nog n hospitaal in ons eie land opgeknap met ons eie geld nie. Ons eie mense bloei en ons geld word weggegee!!!!!!!!!!!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.