Kyk: Spookagtige dagligdonkerte toe maan die son verduister

Die sonsverduistering soos gesien in Indonesië. (Foto: Juni Kriswanto/AFP)

Professionele sterrekundiges en amateur-kosmoloë in die suidelike Stille Oseaan-streek het Donderdag vasgenael deur hul beskermende brille gestaar na ʼn sonsverduistering waartydens die maan die son sowat ʼn minuut lank in skadu gehul het.

Dele van Australië, Indonesië en Oos-Timor is in dagligdonkerte gedompel – tot groot vreugde van sterrekykers. Aan die noordwestelike kant van Australië kon ʼn algehele verduistering waargeneem word.

In die dorp Exmouth het sterrekykers hul woonwaens staangemaak, teleskope uitgepak en beskermende brille opgesit om te kyk hoe die maan se skadu oor die son se oppervlak kruip, voordat ʼn algehele verduistering omstreeks 11:29 Australiese tyd plaasgevind het.

“Baie mense raak verslaaf aan daardie minute of so se spookagtige bonatuurlikheid,” sê John Lattanzio van die astronomievereniging van Australië.

“Hulle word ‘verduisterings-jagters’ en reis die wêreld vol vir nog sulke ervarings.”

Toe die donkerte toeslaan, het dit ʼn spektraalstilte veroorsaak, vertel diegene wat die verduistering gadegeslaan het.

Minder as ʼn minuut later was die stowwerige landskap weer terug in daglig.

Kort daarna het duisende mense by ʼn planetarium in Djakarta in Indonesië tougestaan om die gedeeltelike verduistering van die son deur teleskope te bekyk.

In Bekasi, aan die buitewyke van Djakarta, het Kristoforus Aryo Bagaskoro en sy tienjarige dogter, Angela Tara, die verskynsel in die weerkaatsing van ʼn watergevulde emmer bewonder.

“Tara kon sedert gister nie ophou babbel hieroor nie, so ek het vanoggend die emmer gebruik sodat ons ook daarna kon kyk,” sê hy. “Dit was ʼn sonderlinge ervaring.”

Vir gewone toeskouers was dit dalk ʼn roerende ervaring, maar die verduistering het wetenskaplikes ook ʼn kans gegee om die son se ligkrans, wat gewoonlik as gevolg van die helder strale nie sigbaar is nie, te bestudeer.

ʼn Soortgelyke verduistering het Albert Einstein indertyd gehelp met die hipotese dat lig kan buig.

By Com-strand, in die suide van Oos-Timor, het meer as ʼn duisend mense, onder wie toeriste en sterrekundiges, byeengekom om die een minuut lange verduistering te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lurock ·

En om te dink dat ons Hemelse Vader het hierdie verskynsel en die dag en datum en tyd reeds bepaal van voor die skepping af. Wat ‘n grote God is Hy nie? Alle eer aan Hom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.