La Niña-klimaatsiklus kan tot 2023 voortduur

Argieffoto (Foto: Roman Grac/Pixabay)

Die weerfenomeen La Niña, wat wêreldwyd ʼn invloed het op temperature, en droogtes en oorstromings veroorsaak het, sal waarskynlik nog maande lank en moontlik tot 2023 voortduur, het die VN Vrydag gewaarsku.

La Niña verwys na die grootskaalse verkoeling van oppervlaktemperatuur in die sentrale en oostelike ekwatoriale Stille Oseaan. Dit vind elke twee tot sewe jaar plaas.

Die Verenigde Nasies se meteorologiese organisasie (WMO) sê daar is ʼn 70%-kans dat die uitgerekte La Niña-siklus, wat die wêreld al sedert September 2020 in sy greep het – tot minstens Augustus sal voortduur.

“Sommige voorspellings dui daarop dat dit moontlik tot in 2023 kan voortduur,” het die WMO in ʼn verklaring gesê.

Indien dit sou gebeur, sal dit die derde keer sedert 1950 wees wat dié fenomeen tydens drie agtereenvolgende winters in die noordelike halfrond teenwoordig is.

Die effek het ʼn grootskaalse invloed op weer om die wêreld heen – gewoonlik die teenoorgestelde impak van die El Niño-fenomeen, wat ʼn warmer invloed het op wêreldwye temperature.

Die verwoestende droogte wat die Horing van Afrika en suidelike Suid-Amerika teister “is tekens van La Niña”, het die WMO bygevoeg.

Die bogemiddelde reënval in Suidoos-Asië en Australië kan ook met die fenomeen verbind word, net soos die voorspellings vir ʼn bogemiddelde Atlantiese orkaanseisoen.

Die WMO benadruk egter dat die impak van natuurlike klimaatsgebeure soos La Niña verskerp weens ʼn warmer planeet.

“Mensgemaakte klimaatsverandering verhoog die impak van natuurlike gebeure soos La Niña en die verhoogde invloed op ons weerpatrone,” het Petteri Taalas, hoof van WMO, in ʼn verklaring gesê.

Hy het spesifiek verwys na “meer intense hitte en droogte en die gepaardgaande risiko van veldbrande, net soos rekord reënval en oorstromings”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.