Lesotho-verkiesing: Skraal hoop op hervorming

Lesotho

Lesotho se verkiesing het Vrydag plaasgevind. (Foto: Marco Longari / AFP)

Kiesers in Lesotho het Vrydag aan die parlementêre verkiesing in dié land deelgeneem, maar verskeie inwoners en ontleders meen daar is weinig hoop dat dit ’n einde sal bring aan die politieke wurggreep waarin die land hom al jare bevind.

Lesotho word die afgelope dekade deur wankelrige en dwarstrekkerige koalisies gekenmerk, met geen premier wat ’n volle termyn van vyf jaar uitgedien het nie.

Stembusse het Vrydag om 15:00 gesluit en die uitslae sal na verwagting later vandeesweek bekend gemaak word.

Sommige kiesers het kilometers ver gestap of ure lank in toue gestaan ​​om stemlokale te bereik wat by skole en ander oop ruimtes opgerig is.

Mamete Potsane, ’n 74-jarige Lesotho-burger, het aan AFP gesê sy is vol vertroue dat die volgende premier inwoners se lewe sal help verbeter. Om hierdie rede het sy haar kruisie gaan trek. Sy oorleef tans op 800 maloti (ongeveer R800) per maand.

Talle ander inwoners het van stembusse weggebly omdat hulle meen dit gaan geen verskil maak nie.

“Ons het hoop verloor,” het Mpho Mochaka (26) gesê.  Mochaka is ’n straatsmous wat sigarette en appels in die hoofstad, Maseru, verkoop. Sy het nie Vrydag gaan stem nie.   

Onbestendigheid 

Sedert Lesotho in 1966 onafhanklikheid van Brittanje verkry het, word die land deur staatskapings en pogings tot staatskapings geteister. Byna ’n derde van die bevolking van sowat twee miljoen mense oorleef op minder as R40 per dag.

Die uitgaande regering word gelei deur die All Basotho Convention (ABC), maar die huidige premier, Moeketsi Majoro, het nie vir ’n volgende termyn gevra nie nadat hy vroeër vanjaar as partyhoof die trekpas gegee is.

Sy voorganger, Thomas Thabane, is in 2020 gedwing om uit te tree nadat hy daarvan beskuldig is dat hy die moord op sy vervreemde vrou gereël het. Aanklagte teen hom is in Julie teruggetrek. Die ABC se nuwe leier, Nkaku Kabi, ’n voormalige minister van gesondheid, het teen verskeie mededingers om dié rol geveg.  Meer as 50 partye het meegeding. Kabi se vernaamste mededingers sluit in Mathibeli Mokhothu, wat aan die hoof staan ​​van die Demokratiese Kongres – Lesotho se naasgrootste party – en Sam Matekane, ’n miljoenêr wat glo die land se rykste man is.  Ontleders het vroeër gesê dat die wenner na verwagting nie mededingers met veel sal uitstof nie, wat beteken dat die vooruitsig op broodnodige hervorming skraal bly.

“Koalisies is ’n bron van onbestendigheid omdat dit gevorm word uit politieke partye wat nie veel het wat hulle bymekaarhou nie: geen wedersydse beleidsplatform of respek nie,” het sy gesê.

Die uittredende parlement het verder versuim om ’n wet aan te neem wat daarop gemik is om politieke stabiliteit te versterk deur wetgewers te verbied om binne die eerste drie jaar van hul ampstermyn van party te verander.

“Ons wil infrastruktuur, paaie en ondernemings hê – dit gaan alles daaroor om hoop na die land terug te bring,” het Mekhotak Setsebi (30) aan AFP gesê. Hy is die hoof van ’n klein logistieke maatskappy, maar sê sake lyk beroerd.

Hy het nietemin sy stembrief by Matala ingedien.

Die parlement met 120 setels word deur ’n gemengde kiesstelsel gekies –  80 wetgewers word deur kiesers ingestem, terwyl nog 40 setels proporsioneel verdeel word. Sowat 1,5 miljoen mense het geregistreer om te stem. Die opkoms in die vorige verkiesing in 2017 was slegs 4%, maar sommige ontleders het gesê die syfer kan vanjaar hoër wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Suzette ·

Klink of daar van SA gepraat word want tans is SA ook afwaarts oppad teen ‘n spoed.

Manie ·

Indien Lesotho slegs 2 miljoen inwoners het, behoort die land te floreer, want die helfte is in SA.

annie ·

Lees The Myth of Development deur die Peruviaanse diplomaat Oswaldo de Rivero oor die vals drome van die talle vervalle immer ontwikkelende ekonomieë; die groot leviatan wat nooit gevang word nie…

groenboer ·

Wankelrige en dwarstrekkerige koalisies? Klink soos SA ná 2024, indien die ANC nie ‘n volstrekte meerderheid kry nie. En selfs as die ANC wen, gaan ons sit met ‘n fataal verswakte, korrupte en onbeholpe regering.

Maar ons paniek nie – ons sal self, en anders as wat op die oomblik nog in ‘n mate die geval is, sal die regering ook nie eintlik meer die mag of vermoë hê om struikelblokke in die pad van selfdoen te kan rol nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Maar jy en ek gaan belasting betaal dat die biesies bewe.

Shakespeare ·

In Lesotho is dit net die koning en sy vriende wat uitspattig hoog lewe. Die stemvee is te onnosel ( soos in RSA) om dit raak te sien. DIS AFRIKA, MENSE !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.