Lilibet Diana amptelik by troonopvolgerslys gevoeg

Prins Harry en Meghan tydens haar tweede swangerskap. (Foto: @misanharriman/Twitter)

Die naam van prins Harry en Meghan Markle se jongste spruit, Lilibet Diana Mountbatten-Windsor, is uiteindelik – sewe weke ná haar geboorte – by die lys van troonopvolgers op die Britse koninklike familie se amptelike webwerf gevoeg.

Dit het sommige lede van die media genoop om te wonder waarom die proses so lank gesloer het. Lilibet Diana is op 4 Junie vanjaar in die Santa Barbara Cottage-hospitaal in Kalifornië, VSA, gebore en is amptelik die agtste aanspraakmaker op die Britse troon.

Toe Lilibet Diana se ouer broer, Archie Harrison Mountbatten-Windsor, in Mei 2019 gebore is, is die lys binne die bestek van twee weke opgedateer.

Met prins Louis, die driejarige seun van prins William en Kate Middleton, se geboorte in 2018, is die lys binne die bestek van 12 dae opgedateer.

ʼn Woordvoerder van Buckingham-paleis het vroeër gesê die amptelike koninklike webwerf word “periodiek” opgedateer.

Prins Andrew, seun van koningin Elizabeth II en prins Philip, wat vroeër vanjaar oorlede is, skuif na die negende plek op die ranglys van troonopvolgers. Dit beteken uiteraard dat almal laer as prins Andrew se negende plek ook met een plek afskuif.

Prins Harry en sy vrou Meghan. (Foto: (Daniel Leal-Olivas/Pool Photo via AP, file)

Prins Harry en Meghan het hul dogter vernoem na koningin Elizabeth II, prins Harry se ouma, wie se noemnaam Lilibet is. Die kind word egter Lili genoem.

“Haar middelnaam, Diana, is dié van haar ouma, die prinses van Wallis,” het die egpaar vroeër in ʼn verklaring gesê.

Lilibet is ook die troetelnaam wat prins Philip, wat op Vrydag 9 April vanjaar in die ouderdom van 99 dood is, vir sy vrou gegee het. Hulle was 73 jaar lank getroud.

Prinses Charlotte, prins William en Kate se sesjarige dogter, se middelnaam is ook Diana.

Regtens dateer die troonopvolgerslys dateer van die 17de eeu met die bewind van Willem van Oranje. Dit is onlangs, in 2013, gewysig om die stelsel van manlike geboortereg, wat outomaties broers bo hulle susters in die lyn van troonopvolgers geplaas het, te beëindig.

Die geskiedkundige reël dat ʼn koninklike nie sy plek op die lys behou as hy met ʼn Rooms-Katolieke persoon trou nie, is ook gewysig. Die veranderinge is sedert Maart 2015 van krag, maar is slegs van toepassing op koninklike kinders wat ná 28 Oktober 2011 gebore is.

Harry saam met klein Archie. (Foto: Instagram)

Lilibet Diana se posisie op die lys is dus nie ʼn uitgemaakte saak nie. Prins Harry en Meghan se dogter, wie se geboortesertifikaat op 6 Julie openbaar gemaak is, sal verder op die lys af skuif sou enige van prins William en Kate se kinders ouers word in die toekoms.

Op die oomblik is prins Charles, prins William, prins George, prinses Charlotte, prins Louis, prins Harry en Archie voor Lilibet Diana op die lys.

Prins Charles (72) hou die rekord vir die langste dienende erfgenaam in die Britse geskiedenis. Hy behou die posisie sedert prinses Elizabeth II op 6 Februarie 1952 haar plek op die troon ingeneem het. Die prins van Wallis was toe net drie jaar oud.

Bronne: NZ Herald, People.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Alta Alleman ·

Charles gaan seker nooit op die Troon sit nie….ek dink sy ma gaan hom oorleef.

Spook ·

Ek raak nou moeg die bedorwe rooikop brokkie en sy tweederangse aktrise vrou. Kry ‘n werk, boet. Ondersteun jou familie soos al die ander mense in die wereld. Erens in Kalifornië sal jy seker ‘n joppie as ‘n “motiveringspreker” of ‘n duikbootsifdeur kry.

annie ·

Seker omdat die onsigbare dogtertjie so onsigbaar gehou word en die vreeslik sigbare ouers die hele tyd besig is om hulself so sigbaar as moontlik te maak. Gaaaap!

Karina ·

Ek wonder ook waarom die baba nog nooit aan die wêreld gewys is nie. Steek hulle iets weg?

Elize ·

Wonder hoekom wys hulle nie fotos van hierdie dogtertjie nie. Ek mag dink wat ek wil maar mag dit nie sê nie

Natasha ·

Is so bly. Sy is die pragtigste dingetjie en lyk asof sy ‘n regte voshaarnooi gaan wees.

Niklaas ·

Hierdie ou “verstote” prinsie en sy moeilikheidmaker -gade se optredes is nogal vreemd. Eers wil hul wegkruip vir al die media aandag en vlug dan weg van koninklike pligte en sy vaderland . Dan soek hul weer die media se aandag , dalks met finansiële motiewe. Soos Ophra se onderhoud en al die onthullings ,om simpatie te verwerf. Onthou ook ,daar word jy geldelik beloon as jy optree by Ophra se praat uitsendings. Nou is daar stories oor haar boek wat nie reuse sukses en top verkoper is nie. Daar word glo ook gewerk aan sy , die rooikop prins , se biografie. Dalks ook met bitter “waarhede” en natuurlik ook vir geldelike gewin. Daar word ook bespiegel oor rolprentwerk , wat dit ookal sal behels. Lyk asof ‘n geld fonteintjie begin opdroog het en hul moet vinnig iets doen daaromtrent. Ek glo hy het reeds spyt oor ‘n hele aantal dinge.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.