Lincoln se haarlok, bebloede telegram te koop aangebied

‘n Haarlok van die vermoorde Amerikaanse president, Abraham Lincoln. (Foto: Nikki Brickett/RR Auction via AP)

Dis ʼn grieselige veiling … ʼn Lok van Abraham Lincoln se hare, toegedraai in ʼn bloedbevlekte telegram oor sy sluipmoord in 1865, word nou te koop aangebied.

RR Auction, ʼn veilinghuis in Boston in die VSA, sê aanlyn bieëry vir die veiling wat volgende naweek in New Hampshire plaasvind, het reeds begin.

Die minimumprys staan op $10 000 (sowat R165 000), maar die lok en telegram gaan na verwagting vir $75 000 (R1,2 miljoen) of meer opgeveil word, het Mike Graff, woordvoerder, gesê.

Die klossie hare is sowat 5 cm lank en is verwyder tydens die nadoodse ondersoek wat op Lincoln gedoen is nadat John Wilkes Booth hom in Washington, D.C., doodgeskiet het.

Die hare is aan dr. Lyman Beecher Todd, ʼn posmeester van Kentucky en ʼn neef van Mary Todd Lincoln, die 16de Amerikaanse president se weduwee, gegee. Volgens Graff was Todd teenwoordig toe die ondersoek gedoen is.

Die hare is vasgemaak op ʼn amptelike telegram van die oorlogsdepartement wat Todd se assistent in Lexington, Kentucky – George Kinnear – met die poskantoor aan hom gestuur het. Die telegram het Washington op 14 April 1865 om 11:00 bereik.

Die bebloede telegram waarin die hare toegedraai is. (Foto: Nikki Brickett/RR Auction via AP)

ʼn Onderskrif, getik deur Todd se seun lui: “Die bogenoemde telegram … het in Washington aangekom ʼn paar minute nadat Abraham Lincoln geskiet is. Die volgende dag, by die nadoodse ondersoek, toe ʼn haarlok, gesny van die president se linkerslaap, gegee is aan dr. Todd – wat geen ander papier in sy sak kon vind nie – het hy die haarlok, bevlek met bloed of breinvloeistof, in die telegram toegedraai en haastig in potlood daarop geskryf: ‘Hare van A. Lincoln’.”

Dr. Todd se latere weergawe het effe verskil en hy skryf in 1985 – drie dekades na die sluipmoord en sewe jaar voor sy eie dood – dat hy self die hare afgesny het.

In dokumente uit die Lincoln-era wat by Allegheny-kollege in Meadville, Pennsilvanië, gehou word, skryf hy oor die outopsie: “Nadat alles verby was, het genl. Hardin ingekom en ʼn skêr vir my gegee en gevra dat ek ʼn paar haarlokke vir mev. Lincoln afsny. Ek het dit versigtig gesny en aan genl. Hardin gegee en een vir myself gehou wat ek as ʼn heilige aandenking bewaar het.”

Kan wetenskaplikes Lincoln van die haarlok kloon? Vergeet maar daarvan. Haarfollikels bevat bitter selde bruikbare DNS.

RR Auction sê hy grond die egtheid van die haarlok en die telegram gedeeltelik op ʼn brief wat dr. Todd se seun, James Todd, in 1945 geskryf het. Daarin word geskryf die hare was “sedert daardie tyd uitsluitlik in die besit van ons familie”. Dit is die vorige keer in 1999 verkoop.

Bobby Livingston, adj.pres. van RR Auction, verskil van die mening dat die aanbod, veral die haarlok, effe aan die donker kant grens.

Abraham Lincoln.

“Dit is nie makaber nie. Dit is ʼn fassinerende aandenking van ʼn verskriklike tragedie. Die versamel van haarlokke was destyds algemene gebruik nadat iemand dood is. Dit is ʼn stuk van die geskiedenis. Die sluipmoord van pres. Lincoln was uiteraard ʼn enorme skok.”

Geskiedkundiges sê die telegram self is ook belangrik omdat dit ʼn teorie weerlê dat die destydse oorlogsekretaris, Edwin Stanton, Lincoln weens hul politieke en persoonlike verskille wou vermoor.

Sommiges het selfs aangevoer Stanton het opdrag gegee dat militêre kommunikasie ontwrig word, wat Booth toegelaat het om die owerhede ʼn tyd lank te ontduik. Die datumstempel op die posstuk wys egter dat weermaglyne wél funksioneel was op die aand wat Lincoln vermoor is.

Die telegram is “bewys om die disinformasie en samesweringsteorieë oor Lincoln se sluipmoord verkeerd te bewys,” het Graff gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JohanR ·

President Nkosazana Dlamini-Zuma se geel kopdoek, en Onder President Cyril Ramaphosa se problematies gesig masker nou te koop aangebied. Wag soe bietjie laat ek in my sak soek….ja daar is hy ‘n hele 10c! Kom iemand anders met ‘n ander offer? Die kopdoek en gesig masker sal handig inkom as ek my volgende braai vuur aansteek.

Persheks Adri ·

Dankie vir die lekker lag Johan! Ek dink jy’s bietjie te duur hoor. LMGA! Ons soek dit nie eers gratis of verniet nie net nou is daar iets van hul sangoma goed in eish…

katerinadiekat ·

Ag nee sies. Sal dit nie eens vat as hulle My betaal nie. Te morbied.

Niklaas ·

Ek sal geld baie beter aanwend , as ek sulke geld kon hê . Wat gaan die trotse nuwe eienaar daarmee maak dan ?

Danie ·

Nee niks gaan daarmee gemaak word nie.
Dit is soos n waardevolle skildery, geldstuk of ou motor.
Dis ‘n belegging wat vir die eienaar ‘n goeie opbrengs gaan bring wanneer hy dit weer verkoop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.