LIV-baas nou van ernstige misdade beskuldig

Voorsitter van die LIV-reeks, Yasir Al-Rumayyan (middel) saam met Charl Schwartzel (links) en die uitvoerende hoof van die LIV-reeks, Greg Norman. (Foto: Sandra Mailer/ AFP)

Enkele dae nadat die PGA- en LIV-reeks weer samesprekinge gevoer het oor hoe om in die toekoms saam te werk, het ernstige misdadige beweringe teen die LIV-gholfbaas die lig gesien.

Luidens hofstukke word die voorsitter van die LIV-reeks, Yasir Al-Rumayyan, van kwaadwillige en onwettige misdadige optrede beskuldig.

Die gewese Saoedi-Arabiese intelligensie-offisier dr. Saad Aljabari eis $74 miljoen (sowat R1,4 miljard) van Al-Rumayyan omdat hy na bewering betrokke was by pogings om Aljabari en sy gesin “leed aan te doen, stil te maak en uiteindelik uit te wis”.

Aljabari woon sedert 2017 in ballingskap in Kanada nadat sy vorige baas, kroonprins Mohammed bin Nayef (MBN), deur kroonprins Mohammed bin Salman (MBS) in hegtenis geneem en van sy pligte onthef is, berig The Athletic.

MBS het daarna glo opdrag gegee dat Aljabari ook in hegtenis geneem word omdat hy na bewering geld van die staat verduister het.

Aljabari het na Kanada gevlug, maar sy twee kinders, Omar en Sarah, is verbied om die land te verlaat.

In 2020 is Omar tot nege jaar en Sarah tot sewe jaar gevangenisstraf gevonnis. Dit is onduidelik wat die klagte teen hulle was omdat hul verhore agter geslote deure plaasgevind het.

Aljabari beweer in sy saak teen Al-Rumayyan dat die LIV-baas sy kinders onregmatig ontvoer het en wederregtelik aanhou.

Aljabari sê Al-Rumayyan se optrede het gevolg nadat MBS die gholfbaas direk beveel het om hom en sy gesin te teister.

Aljabari sê voorts hy verwag om doodgemaak te word en beweer hy het reeds een keer in 2018 ʼn sluipmoordpoging op sy lewe oorleef.

Die onsuksesvolle poging om hom te vermoor het glo in dieselfde maand gebeur as wat die joernalis Jamal Khashaggi in Istanboel ontvoer en vermoor is.

Die beweringe teen Al-Rumayyan het Dinsdag ʼn geskarrel in gholfkringe veroorsaak en verteenwoordigers van die PGA-reeks het geweier om enigsins kommentaar te lewer.

Volgens ingeligtes het Al-Rumayyan en die uitvoerende hoof van die PGA-reeks, Jay Monahan, die afgelope naweek telefonies samesprekinge gevoer oor die toekomstige samewerking en moontlike samesmelting van die PGA- en LIV-reeks.

Groot vordering is glo gemaak nadat die twee organisasies nie die aanvanklike sperdatum van 31 Desember kon haal om ʼn amptelike samewerkingsooreenkoms te sluit nie.

Die nuwe sperdatum vir ʼn ooreenkoms om vrede tussen die PGA- en LIV-reeks te verseker, is begin April.

Dit lyk intussen na ʼn uitgemaakte saak dat ʼn derde party – die SSG-groep wat uit ʼn groot groep miljardêr-beleggers bestaan – ook deel gaan wees van gholf se toekomsplanne.

Bykomende inligting: Golf Digest

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Manie ·

Is dit nie dalk die Amerikaans beheerde PGA wat agter hierdie swartsmeer veldtog sit nie? Die liewe Yanks kan mos nooit aanvaar dat daar iets groter en beter as hulle bestaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.