LIV-speler dagvaar TV-netwerk

Patrick Reed. Foto: Cliff Hawkins/Getty Images/AFP.

Die Amerikaanse gholfster Patrick Reed dagvaar die televisienetwerk Golf Channel en een van sy aanbieders vir meer as R12 miljard weens naamskending.

Die reuse-eis van $750 miljoen teen die Amerikaanse uitsaaier en een van sy bekende kommentators, Brandel Chamblee, volg ná beweerde lasterlike uitsprake deur Chamblee oor verlede week se uitspraak in die hofgeding in Kalifornië tussen die Amerikaanse PGA-reeks en drie spelers van die omstrede LIV-reeks.

Chamblee het glo ná die hofsaak op televisie gesê “gholf het gewen, moordenaars het verloor” toe hy na die uitspraak van regter Beth Labson Freeman verwys het.

Sy het beslis dat die drie LIV-spelers, Talor Gooch, Matt Jones en Hudson Swafford, nie in die PGA-reeks se laaste drie uitspeel-toernooie om die Fedex-beker kan meeding nie.

Hulle is deur die PGA-reeks geskors nadat hulle hul by die LIV-reeks aangesluit het.

Die nuwe LIV-reeks word deur die Saoedi-Arabiese openbare beleggingsfonds gefinansier en die deelnemers verdien gewaarborgde prysgeld en ontvang ook honderde miljoene rande aan aansluitingsfooie.

Die ongewilde Reed beweer in hofstukke dat Channel en Chamblee sedert 2013 reeds ’n veldtog teen hom voer en saamspan om hom te beswadder deur “vals inligting te versprei in hul strewe om sy reputasie skade te berokken en van hom ’n haatfiguur te maak”.

Luidens die hofstukke brandmerk Chamblee se uitlatings verlede week Reed as ʼn “moordenaar” en het vorige uitsprake deur hom daartoe gelei dat die speler deur ondersteuners gekoggel en ’n skelm genoem is.

Reed het in 2018 die gesogte Amerikaanse Meesters-toernooi gewen en het ook agt ander toernooi-oorwinnings in die PGA-reeks op sy kerfstok.

In 2016 was hy ook een van die VSA se helde in hul Ryderbeker-sege op Hazeltine in Minnesota oor Europa toe hy die gewilde Ier Rory McIlroy in die enkelspelle verslaan het.

Reed het hom egter in 2019 tydens die Hero-uitdaagtoernooi die gramskap van gholfondersteuners op die hals gehaal. Hy is daarvan beskuldig dat hy die lê van sy balletjie verbeter het deur die sand agter die balletjie plat te vee. Hy het dit ontken, maar is deur die PGA-beamptes met twee houe gestraf nadat hulle televisie-beeldmateriaal van die voorval bestudeer en beslis het dat hy die reëls van die spel oortree het.

Hy was deur die jare in vele voorvalle betrokke waar die verbreking van die reëls ter sprake was en is aan die einde van 2009 deur die Universiteit van Georgia geskors.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Oosieoos ·

Chamblee moet a wag voor sy mond sit gaan hom duur testaan kom

Jack ·

Moordenaar van die waarheid miskien as ek dit reg verstaan maar hy bly op die ou einde nog steeds die wenner. Wie worrie oor goeie naam deesdae. Vra vir trump.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.