Lufthansa oorweeg bankrotskap eerder as staatshulp

Argieffoto (Foto: bernswaelz, Pixabay)

Duitsland se vlagskip-lugdiens Lufthansa ondersoek die moontlikheid om bankrotskap te verklaar in plaas daarvan dat die staat ingryp te midde van ekonomiese probleme weens die koronavirus-pandemie.

Talle lugrederye is swaar getref deur die uitbreking toe vlugte gekanselleer is en aanvraag afgeneem het. Lufthansa, Europa se grootste lugdiensmaatskappy, het verlede week aangekondig hy sal nie die krisis op sy eie kan hanteer nie.

Indien daar op bankrotskap besluit word, sal die maatskappy onder toesig van ʼn kurator geplaas word en toegelaat word om onder die huidige bestuur te herstruktureer.

ʼn Woordvoerder van die kajuitbemanningsvakbond Ufo het Dinsdag inligting oor die onderhandelings bevestig. Volgens die vakbond het Carsten Spohr, uitvoerende hoof van Lufthansa, intern gesê hy sal verkies om die maatskappy eerder na dié tipe bankrotskap te lei as dat politici inmeng.

Spohr het in ʼn onderhoud met die Duitse koerant Die Zeit gewaarsku teen te veel invloed van die regering in sy maatskappy. “Vrae soos of ons van Osaka na München vlieg of van Zürich, moet nooit polities van aard wees nie,” het hy aangevoer.

Spohr het versoek dat die sakebesluite van sy bestuurspan vertrou word en gesê Lufthansa het pas sy drie beste jare agter die rug. Volgens hom ondersoek die bestuur alle opsies, insluitend bankrotskap, wat ʼn alternatief sou wees as staatsingryping enige nie-mededingende voorwaardes insluit.

Spohr het gesê gesprekke duur voort “met talle regerings in Europa oor ondersteuning vir ons lugredery”.

Ufo is van mening dat ʼn direkte staatsingryping beter beskerming vir werknemersregte sal beteken en strategiese voordele vir Duitse lugvaart.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Fae Fubar ·

Sjoe. Tekenend aan ‘n eerste-wêreld land, is besluite nie noodwendig polities gemotiveerd nie.

Gemaskerde Sopbeen ·

Ai tog mens mag droom. Kon ons mense nie ook maar op dieselfde wyse as grootmense opgetree het en die situasie met SAL al lankal afgehandel het nie. Lyk my tot die Duitse vakbonde verstaan die realiteit.

Leon ·

Vertel dit vir die ANC. Miskien leer hulle eendag iets daaruit.

Hekwag ·

Daar is mense wat leer en leer maar net nooit tot die kennis kom nie

Kokerboom ·

Stuur asb die berig in Engels aan CR, Min Gordhan asook vakbonde. Miskien leer hul ‘n lessie alhoewel ek dit sterk betwyfel. Geld volgens hulle word mos van bome gepluk!!!

antieke antie ·

dis as bevoegde mense in beheer is…. afrika het bewys hulle is onbevoeg orals en misbruik mag

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.