Lugmag moet opdok ná skietery by kerk

Kruise met die name en fotos van slagoffers van die 2017 skietery by ‘n Baptiste kerk in Texas. (Foto: MARK RALSTON / AFP)

ʼn Amerikaanse regter het Maandag beveel dat die lugmag meer as $230 miljoen (R3,5 miljard) in skadevergoeding moet uitbetaal aan oorlewendes en familie van slagoffers van ʼn massaskietery in 2017 by ʼn kerk in Texas. Dit is omdat die lugmag versuim het om die skieter se kriminele rekord aan te meld.

Altesaam 26 mense is dood en 22 beseer toe Devin Patrick Kelley by ʼn Baptiste Kerk in Sutherland Springs, Texas, losgebrand het. Kelley, ʼn veroordeelde misdadiger, het ʼn geskiedenis van gesinsgeweld en geestesprobleme gehad. Hy het homself ná die skietery doodgeskiet.

Die voorval word as die ergste massaskietery in dié deelstaat beskou.

“Die hof het tot die gevolgtrekking gekom dat die regering versuim het om redelike sorg aan die dag te lê deur Kelley se misdaadrekord by die FBI aan te meld, en sodoende 60% verantwoordelik is vir die klaers se verlies,” lui die uitspraak.

Families van die oorledenes en dié wat beseer is, het die regering gedagvaar, aangesien hulle meen die regering die voorval kon voorkom het indien hulle verhoed het dat die skieter wettiglik ʼn wapen aanskaf. Die klaer in die saak was Joe Holcombe. Hy en sy vrou, Claryce, het nege van hul familielede in die skietery verloor, onder wie kinders, kleinkinders en agterkleinkinders.

Kelley het wettiglik ʼn vuurwapen aangeskaf, hoewel veroordeelde moordenaars gewoonlik nie toegelaat word om wapens te besit nie. Die lugmag het egter nie sy vorige veroordelings van geweld aangemeld nie en daar was dus geen rede om nie die vuurwapen aan hom te verkoop nie.

Die lugmag se woordvoerder het aan The New York Times gesê hulle beplan om teen die uitspraak te appelleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Niklaas ·

Nou wonder ek of so ‘n hofsaak in SA sal slaag ? Ek dink nie so nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.