Man bloei dood ná troetelhaan hom aanval

Jasper Kraus is dood nadat ’n troetelhaan hom aangeval het. (Foto: Irish Central / Facebook)

ʼn Geregtelike doodsondersoek het onthul dat die dood van ʼn Nederlandse man verlede jaar deur sy troetelhaan veroorsaak is.

Irish Central berig dat Jasper Kraus (67), oorspronklik van Nederland, op 28 April verlede jaar dood is nadat ʼn aggressiewe Brahma-hoenderhaan hom by sy huis in Ballinasloe, County Roscommon in Ierland, aangeval het.

Speurder Garda Eoin Browne het tydens die onlangse ondersooek gesê dat Kraus destyds in ʼn plas bloed op sy kombuisvloer aangetref is.

Kraus het glo liters bloed verloor en ook ʼn hartaanval gehad nadat die hoender sy spoor, die horingagtige pen agter aan die poot van ʼn haan, in Kraus se been ingesteek het.

Paramedici het noodhulp op Kraus toegepas, maar hy is op die toneel dood verklaar.

Sy liggaam is na die lykshuis by die Roscommon-hospitaal geneem en is later na ʼn akademiese hospitaal vir ʼn nadoodse ondersoek gestuur.

Kraus se dogter, Virginia Guinan, het aan die ondersoekpaneel gesê dat haar pa ten tyde van sy dood in remissie van kanker was en baie medikasie gebruik het.

Sy het op die betrokke dag inkopies by sy huis afgelaai, maar hy het geslaap.

Guinan het later ʼn oproep van Corey O’Keeffe, een van haar pa se huurders op die perseel, ontvang om haar omtrent die voorval in te lig.

Sy het na haar pa se huis gegaan en vertel dat sy bloed “oral op die vloer” gesien het, asook paramedici wat probeer het om haar pa by te bring.

Sy het ook getuig dat sy ʼn hoender met bloed aan sy pote gesien het – die einste hoender wat haar dogter (Kraus se kleinkind) by ʼn vorige geleentheid aangeval het.

O’Keeffe wat twee jaar lank ʼn huurder van Kraus was, sê hy het na werk huis toe gekeer, die hoenders gevoer en Kraus gegroet voordat hy na sy kamer is.

Hy het kort daarna wakker geskrik toe Kraus om hulp geroep het. Hy het self vir 25 minute lank noodhulp op Kraus toegepas voordat nooddienste opgedaag het.

Volgens O’Keefe het Kraus die woord hoenderhaan geuiter voordat hy sy bewussyn verloor het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Harley Davidson ·

Wie het nou ‘n hoender as ‘n troeteldier papegaaie is troeteldiere hoenders is vir kfc en nandos bedoel.

TruthDealer ·

Jy sal verbaas wees hoeveel mense hoenders as troeteldiere aanhou, hier en in oorsese lande. Gratis eiers ook. My ma het destyds toe ek kind was, te alle tye hoenders gehad. Een vd hoenders is net somtyds geslag wanneer sy oud geword het, my ma het ons hoendervleis 99% vd tyd by die winkel gekoop.

TruthDealer ·

So n vreemde manier om te sterf! Die hoenderhaan se spoor het seker die oom se bo-been aar (femoral artery) uitgeruk. Arme man.

Christine ·

Tot die diere is aan die mal word. Wys net in wat se toestand die wêreld is en die natuur voel dit aan.

Robert ·

Het self ‘n letsel op my boud waas ‘n haan my bygekom het as 5 jarige op ons plaas… Hy het sondag middagete baie lekker gesmaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.