Man vas wat in hek by Duitse kanselary vasjaag

‘n Duitse polisiebeampte bewaak die motor waarmee die man in die hek vasgery het. (Foto: John Macdougall/AFP)

ʼn Man is Woensdag in hegtenis geneem nadat hy met sy motor in die hek by die Duitse kanselary in Berlyn vasgejaag het. Die Duitse kanselier, Angela Merkel, se kantoor is hier geleë.

Volgens die Duitse polisie was die woorde “Stop globaliseringspolitiek” in Duits op die kant van die donkergroen Volkswagen geverf. Aan die bestuurderskant van die voertuig was geskryf “julle verdomde kinder- en bejaardemoordenaars”.

Die polisie vermoed die man het in die hek vasgery as ʼn teken van protes.

Dit is nog nie duidelik hoeveel skade aan die hek aangerig is nie en dit lyk of die voertuig glad nie beskadig is nie.

Volgens polisie het die motor slegs aan die hekke geraak. Sementblokke is aan die hekke se onderkant opgerig as bykomende veiligheidsmaatreël om te verhoed dat voertuieby die perseel kan injaag.

Duitse media het berig dat dieselfde voertuig ook in 2014 by die kanselary se hekke wou inry. Dit was glo in protes teen aardverwarming gedoen.

Die woorde “Stop klimaatsverandering wat mense doodmaak” was destyds op die voertuig geverf.

ʼn 48-jarige man is vir daardie voorval in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.