Man vies oor masker, toe skiet hy kassier

(Argieffoto: pixabay)

ʼn Duitser het hom Sondag aan die polisie oorgegee ná hy ʼn kassier by ʼn vulstasie doodgeskiet het. Die man het na bewering ʼn woede-uitbarsting gekry nadat die kassier hom gevra het om sy masker aan te sit.

Die voorval het Saterdagaand by ʼn vulstasie in die dorp Idar-Oberstein in Duitsland plaasgevind.

Die 49-jarige verdagte het na die vulstasie gegaan om ʼn bier te koop. Toe hy die bier betaal, het die kassier, ʼn student, hom gevra om sy masker aan te sit. Ná ʼn kort stryery het die man die vulstasie verlaat.

Die man het ongeveer ʼn halfuur later na die vulstasie teruggekeer, hierdie keer met ʼn masker aan.

Hy het ʼn pak met ses biere van die winkelrak gehaal en na die kassier geneem. Hy het sy masker afgehaal en die kassier het hom weer daaroor vermaan.

Die man het hom toe só vererg dat hy ʼn rewolwer uitgepluk en die kassier in die kop geskiet het.

Die man het hom die volgende dag aan die polisie oorgegee. Hy het erken dat hy die kassier doodgeskiet het en is summier in hegtenis geneem.

Hy het vir die polisie gesê hy voel vasgevang weens die Covid-19-afsonderingsmaatreëls. Volgens hom maak die maatreëls inbreuk op sy regte en hy kon geen ander uitweg sien nie.

Die burgemeester van Idar-Oberstein, Frank Fruehauf, het die voorval sterk veroordeel.

Inwoners van die dorp het Sondag blomme en kerse buite die vulstasie neergelê uit medelye met die gestorwe kassier.

Duitsland het tydens die pandemie herhaaldelike protesoptredes teen maskers ondervind, waarvan sommige tienduisende mense gelok het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Christian ·

Dit is korrek, elke land het sy probleme en probleem mense. Met 83 miljoen mense het Duitsland 245 moorde in 2019 gehad en 280 moorde in 2020. In dieselfde tyd het Suid Afrika met 60 miljoen mense 42 000 moorde gehad. Stel dit so, in die volgende 10 dae sal meer mense in Suid Afrika vermoor word as wat daar die laaste 2 jaar in Duitsland vermoor was.

MK123 ·

Genade… Ek is ook keelvol en gefrustreerd met die inperking en al die simpel reels wat nie sin maak nie, maar ek sal nou nie my eie lewe so verwoes nie.

Ronel ·

Vrydag het ‘n oom hom in my winkel net so vir my vererg toe ek hom vra om ‘n masker te dra en sy hande te sanitise toe hy inkom dat hy goed rondgegooi, gevloek en gelaster het. Kliënte het openlik hul kop gestaan en skud vir oom en sommiges het gelag. Simpel reëls wat ons probeer nakom om almal veilig te probeer hou.

Cherokee ·

Nie een van die duime het my afdruk nie, Ronel. Meeste van die reëls is egter simpel soos jy sê, (ons sal later nie meer bekendes herken sonder maskers nie) maar die handewas reël is nog al die jare belangrik vir my, en dit behoort te bly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.