Manchester United in rou oor dood van sir Bobby

‘n Jong Sir Bobby Charlton. (Foto: X)

Die Manchester United-legende sir Bobby Charlton is Saterdag oorlede. Hy het sy 86ste verjaardag tien dae gelede, op 11 Oktober, gevier.

“Dit is met groot hartseer dat ons die nuus meedeel dat sir Bobby Saterdag in die vroeë oggendure vreedsaam oorlede is. Hy was omring deur sy familie,” het Charlton se familie ʼn kort ruk gelede aangekondig.

Charlton se vrou, lady Norma Charlton, het in 2020 aangekondig dat demensie by hom gediagnoseer is.

“Manchester United is in rou oor die heengaan van sir Bobby Charlton, een van die grootste en mees geliefde spelers in die geskiedenis van ons klub,” het die sokkerklub vanmiddag in reaksie op die nuus oor Charlton se heengaan gesê.

‘n Jong Sir Bobby Charlton. (Foto: X)

Charlton, wat byna sy hele loopbaan by Manchester United deurgebring het en ʼn sleutelrol in Engeland se 1966 Wêreldbeker-oorwinning gespeel het, het 758 keer vir United uitgedraf en 249 doele vir die klub aangeteken.

“Sir Bobby was ʼn held vir miljoene, nie net in Manchester of die Verenigde Koninkryk nie, maar waar ook al sokker regoor die wêreld gespeel word.

“Hy is bewonder vir sy sportmangees en integriteit asook vir sy uitstaande eienskappe as sokkerspeler. Sir Bobby sal altyd onthou word as ʼn reus van die spel.”

Charlton, ʼn oorlewende van die München-lugramp in 1958 wat die lewe van agt van sy United-spanmaats geëis het, het destyds herstel om in 1966 die Sokkerwêreldbeker-toernooi met Engeland en die Europese Beker twee jaar later met United te wen.

Charlton was later in sy loopbaan ʼn direkteur by Old Trafford en is in Junie 1994 tot ridder geslaan.

“Dit is met ʼn swaar hart dat ons verneem het van die dood van sir Bobby Charlton. Sir Bobby, ʼn integrale deel van ons 1966 Wêreldbeker-wenveldtog, het 106 wedstryde gewen en 49 keer doele vir die #ThreeLions aangeteken. ʼn Ware legende van ons spel. Ons sal jou nooit vergeet nie, sir Bobby,” het die Engelse sokkerspan vanmiddag gesê,

Toe Charlton in 1970 uit internasionale sokker getree het, was sy 106 wedstryde ʼn Engelse rekord. Dit plaas hom gesamentlik sewende op die land se huidige rekordlys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.