Meer as 100 ontsnap toe orkaan tronk beskadig

Die skade in Tortola. Foto: Jalon Manson Shortte via AP

Meer as 100 gevangenes wat aan ernstige misdade skuldig bevind is, het ontsnap nadat orkaan Irma groot skade aan ʼn tronk in die Britse Maagde-eilande aangerig het.

Die gevangenes het ontsnap uit ʼn tronk in Tortola waar veroordeelde moordenaars en verkragters aangehou word. Minstens vyf mense is dood nadat Irma verwoesting gesaai het op die eilande.

Minstens 40 van die ontsnaptes is as “hoërisikogevalle” beskryf en lede van die Koninklike Vloot is na die eiland gestuur om sy goewerneur te beskerm. ʼn Aandklokreël is ook ingestel te midde van berigte van geweld en plundering.

Sir Alan Duncan, minister van buitelande sake, het gesê daar is ʼn “ernstige bedreiging vir die algehele ineenstorting van wet en orde” op die eilande wat verlede week deur die orkaan getref is.

James Tuffin, ʼn Britse toeris, het aan die media gesê hy het plunderaars gewapen met pangas en vuurwapens op die St Martin-eiland gesien. Hy het in ʼn hotelkamer weggekruip en daar was volgens hom vyf dae lank geen water of elektrisiteit nie. Hy is later saam met ander mense na veiligheid geneem deur die Amerikaanse weermag.

Volgens plaaslike mediaberigte is van die gevangenes al weer in hegtenis geneem, hoewel dit nog nie duidelik is hoeveel van hulle steeds op vrye voet is nie.

Die oog van orkaan Irma het direk oor die Britse Maagde-eilande beweeg en skade van meer as £1 miljard aangerig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Veritas ·

John bly John in Afrikaans, Engels, Japanees en Swahili. Hoekom word die naam van die Virgin-eilande nou verafrikaans?

Alida ·

Hulle sal voor die son sak gevang word. Daai polisie slaap nie.

Gys ·

Hulle moet ons eiland tronk ook weer inwerking stel vir die erenstige misdadegers. Dan sal minder kan ontsnap en vir die polisie ekstra werk gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.