Meer as 130 mense sterf in aardbewing in Nepal

(Foto: Prakash mathema/AFP)

Minstens 132 mense is dood ná ʼn aardbewing laat Vrydagaand ʼn afgeleë deel van Nepal getref het.

Die aardbewing van 5,6 het volgens amptenare laat Vrydagaand die verre westelike deel van dié land in die Himalajas getref. Dit is deur die Amerikaanse agentskap vir geologiese opname op meer as 18 kilometer diep gemeet.

Die aardbewing is glo so ver as die Indiese hoofstad Nieu-Delhi gevoel, byna 500 kilometer van die episentrum, 42 kilometer suid van Jumla.

Beeldmateriaal wat op sosiale media geplaas is, wys hoe plaaslike inwoners in die donker deur die puin grawe om oorlewendes uit ineengestorte huise en geboue te trek.

Huise is platgetrek en beskadig terwyl oorlewendes veiligheidshalwe buite gewag het met die geloei van sirenes van noodvoertuie wat jaag om beseerdes by te staan.

“Altesaam 92 mense is in Jajarkot dood en 40 in Rukum,” het Narayan Prasad Bhattarai, woordvoerder van die ministerie van binnelandse sake, aan AFP gesê. Dit is die twee distrikte wat die ergste deur die aardbewing getref is.

Kuber Kathayat, nasionale polisiewoordvoerder, sê die owerhede het meer as 100 ander beseerdes oor albei distrikte heen aangemeld.

Veiligheidsmagte is ontplooi om te help met soek-en‑reddingsoperasies, het Gopal Chandra Bhattarai, polisiewoordvoerder van die Karnali-provinsie, aan AFP gesê.

“Die afgeleë ligging van die distrikte maak dit moeilik vir inligting om deur te kom,” het hy bygevoeg.

“Sommige paaie is weens die ernstige skade onbegaanbaar, maar ons probeer die gebied deur alternatiewe roetes bereik.”

Die distrikshospitaal was glo stampvol inwoners wat beseerde slagoffers ingebring het. ‌

(Foto: Prakash mathema/AFP)

Die Nepalese premier, Pushpa Kamal Dahal, het sy “innige meegevoel oor die menslike en fisieke skade” uitgespreek.

“Die regering is ernstig daaroor om verligting aan slagoffers te verskaf en die beseerdes te behandel,” het hy bygevoeg.

In die naburige Indië het premier Narendra Modi gesê hy is “hartseer oor die verlies aan soveel lewens.

“Indië staan ​​in solidariteit met die mense van Nepal en is gereed om alle moontlike hulp te verleen.”

Nepal lê op ʼn groot geologiese verskuiwingslyn waar die Indiese tektoniese plaat in die Eurasiese plaat opstoot en die Himalajas vorm; aardbewings kom gereeld in dié gebied voor.

Byna 9 000 mense is in 2015 dood en meer as 22 000 beseer toe ʼn aardbewing van 7,8 Nepal getref het en meer as ʼn halfmiljoen huise vernietig het.

Dit het byna 8 000 skole beskadig of vernietig, wat byna een miljoen kinders sonder klaskamers gelaat het.

Honderde monumente en koninklike paleise, ook die UNESCO-wêrelderfenisgebiede in die Kathmandu-vallei, wat besoekers van reg oor die wêreld gelok het, is vernietig – ʼn groot slag vir toerisme.

Ses mense is in November verlede jaar dood toe ʼn aardbewing van 5,6 die Doti-distrik naby Jajarkot getref het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.