Meisie sterf weke ná Serwiese skoolskietery

Roubeklaers kort ná die skietery buite die Vladislav Ribnikar-laerskool in Belgrado. (Foto: Oliver Bunic/AFP)

ʼn Meisie wat vroeër vandeesmaand tydens ʼn skoolskietery in Belgrado in Serwië in die kop geskiet is, is Maandag in ʼn hospitaal dood.

Dié dodelike skoolskietery het nou altesaam die lewe van tien mense geëis.

Agt leerders en ʼn veiligheidswag is op 3 Mei by die Vladislav Ribnikar-laerskool in Belgrado doodgeskiet toe Kosta Kecmanovic, ʼn 13-jarige leerder aan die skool, dié noodlottige dag sy pa se vuurwapen skool toe geneem en op klasmaats en personeellede losgebrand het.

Sewe ander is die betrokke dag met skietwonde hospitaal toe gehaas onder wie die meisie wat vroeër vandag in die hospitaal dood is.

Die Serwiese ministerie van gesondheid sê die meisie het “ernstige kopbeserings” tydens die skietery opgedoen en is ondanks dokters se beste pogings dood.

Die meisie se ouderdom is nie bekend gemaak nie.

Haar klasmaats wat tydens die skietery omgekom het, was almal in hul vroeë tienerjare.

Maroela Media het vroeër berig Kecmanovic het die skietery glo ʼn maand lank beplan en selfs ʼn lys gemaak van kinders wat hy beplan het om dood te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.