Agt dood ná skoolskietery in Serwië

(Foto: Oliver Bunic/AFP)

’n 13-jarige seun het Woensdagoggend by ’n skool in Belgrado in Serwië losgebrand en die lewens van agt kinders en ’n veiligheidswag geëis. Altesaam ses leerders en een onderwyser is tydens die skietery gewond.

Veselin Milic, polisiehoof van Belgrado, het bevestig dat sewe meisies en ʼn seun onder die oorledenes was.

Die skietery het omstreeks 08:40 by die Vladislav Ribnikar-laerskool in Belgrado se Vracar-distrik in die middestad plaasgevind.

Die polisie het vinnig opgetree om die woonbuurt vir die publiek af te sper terwyl ouers hul na die toneel gehaas het, waar geskokte leerders buite die skool gewag het.

Milan Nedeljkovic, president van die Vracar-distrik, het gesê die skool se veiligheidswag het die kinders se veiligheid eerste gestel, wat toe sy eie lewe gekos het.

Die wag “wou die tragedie voorkom en hy was die eerste slagoffer”, het Nedeljkovic aan verslaggewers buite die skool gesê.

Die owerhede het die verdagte later as Kosta Kecmanovic, ’n 13-jarige leerder aan die skool, geïdentifiseer en in hegtenis geneem. Hy was met twee pistole gewapen en het ’n rugsak by hom gehad.

‘Haarfyn beplan’

‘n 13-jarige leerder is in hegtenis geneem in verband met die skietery (Foto: Oliver Bunic/AFP)

Volgens Milic het Kecmanovic die skietery ’n maand lank beplan en ’n lys gemaak van kinders wat hy beplan het om dood te maak.

Bratislav Gasic, minister van binnelandse sake, het gesê die verdagte se pa, wat na bewering die eienaar is van die wapens wat in die skiettog gebruik is, is ook in hegtenis geneem.

“Die pa beweer die pistole was in ’n kluis met ’n kode toegesluit, maar die kind het glo die kode gehad, aangesien hy daarin geslaag het om die pistole en drie magasyne met 15 koeëls elk te vat,” het Gasic gesê.

Ure ná die voorval het amptenare gesê dat ’n verskeidenheid hulpbronne ontplooi word om leerders, hul gesinne en die fakulteit wat in die skietvoorval betrokke was, by te staan.

“’n Span sielkundiges en ander belanghebbendes is onmiddellik ontbied om voldoende ondersteuning aan leerders, werknemers en ouers te bied gedurende hierdie traumatiese tydperk,” het Branko Ruzic, minister van onderwys, gesê.

Ruzic het die skietery die “grootste tragedie” genoem wat in die Serwiese skoolstelsel in die onlangse geskiedenis plaasgevind het.

Die minister het mediaberigte dat afknouery ’n moontlike motief vir die skietery was, afgemaak en gesê “geen gevolgtrekkings” is al gemaak nie.

Serwië sal drie dae van rou eerbiedig, terwyl ’n minuut van stilte Donderdag in skole reg oor die land gehandhaaf sal word.

Ernstige skietwonde

(Foto: Oliver Bunic/AFP)

Die hoof van Belgrado se hoofhospitaal KCS, Milika Asanin, het gesê dokters het op verskeie leerders met skietwonde geopereer.

“Een seun is in ’n ernstige toestand met ernstige skietwonde aan die bors en nek, en die ander seun is in sy onderbeen beseer,” het Asanin aan die Serwiese nuuskanaal RTS gesê.

“Die een meisie is in die maag en albei arms gewond, en die onderwyser in die maag en albei hande.”

Skole reg oor Belgrado is gesluit ná die skietery, aangesien skokgolwe deur die hoofstad getrek het.

Astrid Merlini, wie se dogter tydens die skietery by die skool was, het gesê onderwysers het vinnig opgetree om studente te laat wegkruip terwyl die aanval ontvou het.

“Toe [my dogter] die veiligheidswag sien val, het sy dadelik terug klas toe gegaan. Sy was bang. Sy het vir haar onderwyser gesê ‘daar is ’n skietery bo’,” het Merlini gesê.

“Die onderwyser het die kinders in die klas toegesluit.”

Vuurwapengeweld in skole is uiters skaars in Serwië, waar die aankoop van ’n vuurwapen ’n spesiale permit vereis.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Prof ·

8 kinders en ‘n veiligheidswag =9 dood
Tragies. Wat word van die wereld

Susanna ·

Dit is baie tragies, maar wat ook tragies is, is dat daai kind tien teen een deur al daardie kinders geboelie is en daar is niks aan gedoen nie. Wanneer gaan onderwysers, of eerder skole begin optree teen boelies.

Mira ·

Boelies is ongenadig en in baie gevalle is almal blind tot die slagoffer knak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.