Menslike oorskot gevind naby waar Britse akteur verdwyn

Die akteur Julian Sands word sedert Januarie vermis. (Foto: Robyn Beck / AFP)

Stappers het Saterdag op menslike oorskot in ʼn berggebied in die suide van Kalifornië afgekom waar die Britse akteur Julian Sands (65) vyf maande gelede verdwyn het.

Sands is in Januarie as vermis aangemeld nadat hy ʼn staptog in dié gebied onderneem het, maar nooit teruggekeer het nie.

ABC News berig die menslike oorskot is omstreeks 10:00 Saterdag (internasionale tyd) in ʼn wildernisgebied naby Mount Baldy gevind. Die liggaam is nou na die lykshuis in San Bernardino vir uitkenning gestuur. Die uitslae sal na verwagting volgende week bekend wees, het die San Bernardino-polisie in ʼn verklaring gesê.

Bykomende inligting is nog nie in dié stadium beskikbaar nie.

Sands, ʼn ywerige stapper en bergklimmer, het op 13 Januarie verdwyn toe hy dié bergreeks oos van Los Angeles wou gaan uitklim. Hy was alleen.

Die bergpiek is sowat 3 000 m hoog.

Die streek het baie storms gedurende die VSA se winterseisoen ondervind.

Altesaam agt soektogte is tussen Januarie en Junie na Sands van stapel gestuur, waarvan die laaste een op 17 Junie was. Dit het egter niks opgelewer nie.

Sands se familie het Vrydag hul stilte verbreek deur hul eerste verklaring sedert sy verdwyning uit te reik.

“Ons hou Julian steeds in ons harte en het wonderlike herinneringe van hom as pa, eggenoot, verkenner, natuur- en kunsteliefhebber, asook as kunstenaar,” lui die verklaring.

Sands is in die VK gebore en onder meer bekend vir sy rol in die bekroonde fliek A Room with a View, wat in 1985 bekendgestel is.

Hy het oor die jare in verskeie rolprente en televisiereekse verskyn, waaronder Banshee, Person of Interest, What If en Agatha Christie’s Marple.

Sands sal ook in die riller Double Soul te sien wees wat in Julie vanjaar bekendgestel word.

Die akteur is met die verslaggewer Evgenia Citkowitz getroud en het drie volwasse kinders.

Bron: ABC News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.