Meteoriet in Nicaragua hou dalk verband met naby-aardse asteroïde

Foto: Meteorietkrater, Nicaragua. Foto: ‏@AtomunteleSUR, Twitter

Foto: Meteorietkrater, Nicaragua. Foto: ‏@AtomunteleSUR, Twitter

Dit is moontlik dat die klein meteoriet wat Saterdagaand Nicaraguaanse tyd naby die lughawe van Managua geval het, met die asteroïde verband gehou het wat ongeveer dieselfde tyd rakelings oor Nieu-Seeland getrek het.

Só sê Humberto Garcia van die Astronomiese Instituut by die Universiteit van Nicaragua. Die meeste bronne dui egter nie aan dat die ontploffing beslis die gevolg van ‘n meteoriet was nie.

Dit is nog nie seker of die meteoriet wat ‘n krater met ‘n deursnee van 12 meter (volgens sommige bronne ‘n radius van 12 meter) en 5 meter diep geslaan het, begrawe is of ontplof en gedisintegreer het nie. Dit is ook nie bekend of die ruimtevoorwerp uit ys of klip bestaan het nie. Hoewel baie inwoners dwars oor die stad die harde slag gehoor het, en selfs die gevolglike skuddings en skokgolf, het niemand so ver bekend iets deur die atmosfeer sien trek nie.

Nicaragua roep ook nou internasionale kenners se hulp in om die voorval te ondersoek.

Die asteroiëde wat by die aarde verbygeflits het, het op ‘n hoogte van ongeveer dieselde hoogte as die geostasionêre satelliete by die aarde verbygeflits, met sy naaste punt aan die aarde bo Nieu-Seeland. Dit word as ongeveer een tiende van die afstand na die maan uitgedruk, wat baie naby is.

Hoewel dit toe nog Saterdag in Nicaragua was, was dit reeds Sondag in Nieu-Seeland. Die asteroïde, wat maar eers baie onlangs ontdek is, is ongeveer so groot soos ‘n huis.

In Februarie verlede jaar was die oë van die wêreld op ‘n veel groter asteroïde gerig wat nog nader aan die aarde verbygeskuur het, toe ‘n meteoriet bo Rusland ontplof het, en baie mense beseer is. Die meteoriet het egter nie met die asteroïde verband gehou nie, omdat dit uit ‘n heel ander koers gekom het.

Bronne: AP, Yahoo News, Reuters

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.